Die Caledon-Kersmark, wat vanjaar van 31 Oktober tot 5 November gehou is, was weer iets waarna plaaslike inwoners sowel as besoekers elke jaar gretig uitgesien het.
Die Kersmark, wat hierdie jaar reeds die 24ste keer gehou is, het weer eens iets vir almal se smaak en sak gebied.
Besoekers kon kies en keur uit ’n verskeidenheid gebak, ingelegde vrugte en konfyte, mooi lapgoed vir die huis, gehekelde en gebreide komberse, kinderspeelgoed, pragtige juweliersware, klere en baie meer. Tussen aankope kon mense ook heerlik in die teetuin met ’n ligte ete of ’n sny van die nou reeds bekende kaaskoek ontspan. Vriende en familie het heerlik saamgekuier.
Lizette Kok, wat alle bemarking vir die Kersmark behartig, sê die mark het weer omtrent 80 uitstallers gehad – baie van hulle gereelde uitstallers – maar ook heelparty nuwe uitstallers, wat vanjaar bygekom het. “Die Kersmark-komitee werk regtig hard om ’n sukses hiervan te maak. Die keuring van uitstallers word reeds in Mei gedoen, hoewel ons elke jaar ’n paar laat uitstallers toelaat.
“Dit was ook heerlik dat ons hierdie jaar ons Kersmark meer gemaklik – en maskerloos – kon hou!”


