Die oudleerders van die destydse Hoërskool Caledon tydens hul reünie Dinsdag 8 November in Hermanus,


Om ’n 10-jaar-reünie by te woon, is lekker; as dit by ’n 50-jaar-reünie kom, is dit ’n eer, maar om ’n 70-jaar-reünie by te woon, is besonders – dit gebeur nie gereeld nie.

Oudmatrieks van 1952 van die destydse Hoërskool Caledon, vandag Hoërskool Overberg, het verlede week hul reünie op 8 November by die Hermanus-gholfklub gehou. Hulle het sommer alle leerders wat destyds in die hoërskool was, ook vir die reünie genooi. ’n Allemintige 43 leerders het hierdie besondere dag bygewoon. Die organiseerder, Jan Kühn, het in sy toespraak alle oudleerders verwelkom en gesê die ouderdom van die gaste wissel van 85 tot 89. “Die manne lyk nog oukei, maar die vroue lyk fantasties,” het Kühn geskerts. “Ek onthou toe ons in matriek was, was die vroue wat vandag hier teenwoordig is, 14 en 15 jaar oud, en hulle was mooi. ’n Mens kan dit nie glo nie, maar hulle is vandag net so pragtig.”

Kühn vertel dat hy deel van die 1952-matriekklas was. “In 2002 het ons ’n 50-jaar-reünie by Dassiesfontein gereël en die 60ste by Houwhoek Inn. Ons het elke keer besluit om ook die matriekklasse van 1953, 1954 en 1955 te betrek, want vir vier jaar was die standerd 7-, 8- en 9-klasmaats saam met ons. Dit het gehelp om die getalle te vergroot.”

Volgens Kühn was daar 31 leerders in die matriekklas waarvan hulle in hierdie stadium agt nie kon opspoor nie omdat hulle geen selnommers of adresse het nie.

“Ons weet dus nie of hulle nog leef of dalk al dood is nie. Van die 23 leerders van wie ons wel weet, is 12 reeds oorlede en 11 leef nog. Van dié wat nog oor is, is vyf baie siek en een gestremd, maar die ander vyf is nog gesond genoeg om ons reünie te kon bywoon. Ons dank die Here dat van ons nog hierdie reünie kon bywoon.”

Die skoolhoof van Hoërskool Overberg, Johan Jacobs, en die hoofleiers van 2023, Leon Botha en Nina Viljoen, het ook die geleentheid bygewoon.

In Jacobs se toespraak het hy teruggedink aan die verlede en geskiedkundige mylpale van 1952 opgenoem, soos toe die jong Elizabeth as koningin van Engeland gekroon is, Evita Perron se dood en die Olimpiese Spele in Helsinki.

“Die skool is die afgelope tyd deur ’n moeilike jaar, maar ek wil vir julle as oudleerders, wat ook kleinkinders in die skool het, vertel wat ons as skool beplan. Ons wil die akademiese standaarde van ons kinders verhoog; ons wil die skool opgradeer, soos om die koshuise en sportterreine ’n nuwe voorkoms te gee en ons landbou-afdeling ’n hupstoot te gee. Ons is van die min skole in die streek wat landbou vir seuns en meisies aanbied. Ons wil iets nuuts skep om vir ons kinders te bied, en al hoe ons dit kan bereik, is deur die steun van ons gemeenskap,” het hy gesê.

Lampie Fick, ook ’n oudleerder van die Hoërskool Caledon en ’n bekende boer, politikus en skrywer, het meer vertel oor sy navorsing oor sy boek, In die koelte van eergister, en staaltjies oor die mense van die distrik gedeel.

Ná al die toesprake het almal saam gekuier, families uitgelê en stories oor die verlede gedeel.

You need to be Logged In to leave a comment.