Gerugte het die ronde gedoen dat daar ‘n plaasaanval Vrydagoggend buite Kleinmond was. Dit is bevestig dat dit nie ‘n plaasaanval was nie.


Een verdagte is Vrydagoggend doodgeskiet en sy vermeende makker is in hegtenis geneem toe die eienaar van die plaas waar hulle na bewering skade aan infrastruktuur wou aanrig, op hulle afgekom het.

Brigadier Donovan Heilbron het beklemtoon dat die voorval op Vogelvallei-plaas tussen Kleinmond en Botrivier “nie ’n plaasaanval” was nie.“Twee verdagtes wou na bewering infrastruktuur beskadig toe die slagoffer op hulle afgekom het. ’n Onderonsie het ontstaan en skote is gevuur. Die plaaseienaar en een verdagte is gewond. Die verdagte het gesterf,” het die brigadier bevestig.

Die eienaar, wat deur Netwerk24 as dokter Russel Reuvers geïdentifiseer is, is na ’n hospitaal in Hermanus vervoer en is volgens berigte in ’n stabiele toestand. Die polisie sowel as Overstrand-wetstoepassing, plaaslike buurtwagte en sekerheidsdienste was blitsvinnig op die toneel. Die tweede verdagte is kort daarna aangekeer en in hegtenis geneem.

Kolonel Joe Hartnick, hoof van Caledon-polisie se speurtak, het bevestig dat die plaaseienaar omstreeks 06:00 ondersoek wou instel toe hy sy honde hoor blaf het.

“Hy was op pad na die sonpanele waar kabels voorheen gesteel was toe hy deur twee mans aangeval is. Die een verdagte was na bewering met ’n snoeisker en die ander met ’n mes gewapen.” Hartnick berig dat skote tydens die struweling afgegaan het. Die polisie het op die vuurwapen beslag gelê. Die vuurwapen sal vir ballistiese toetse gestuur word. Die polisie het ook die tweede verdagte, ’n 41-jarige man, in hegtenis geneem.

“Twee dossiere is aangelê. ’n Geregtelike doodsondersoek word ingestel in verband met die verdagte wat noodlottig gewond is. Die ander dossier hou verband met die klagtes van oortreding en poging tot moord waarop die oorlewende verdagte Maandag in die Caledon-landdroshof sal verskyn,” het Hartnick verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.