Die Harderbaai-marienereservaat pronk met nuwe kennisgewings ter beskerming van natuurlewe en dit alles te danke aan AfriForum se Overstrand-tak.


Die Harderbaai-marienereservaat pronk met nuwe kennisgewings ter beskerming van natuurlewe, en dit alles te danke aan AfriForum se Overstrand-tak.

“ ’n Geproklameerde marienereservaat in Harderbaai lok jaarliks baie besoekers. AfriForum se Overstrand-tak het egter ’n probleem geïdentifiseer wat ’n bedreiging vir die veiligheid van die natuurlewe in dié reservaat inhou – die gebrek aan kennisgewingborde en bakens,” vertel Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Volgens hom het dit ’n aansienlike uitdaging vir die departement van bosbou, visserye en die omgewing gestel, wat verantwoordelik is vir die veiligheid van die natuurlewe in die gebied.

“Om hierdie probleem op te los, het die Overstrand-tak met dié departement saamgewerk om nuwe kennisgewingborde en bakens in die reservaat op te rig. Die projek was ’n sukses omdat besoekers aan dié gebied opnuut kennis dra van die moets en moenies ter beskerming van die natuurlewe en hul eie veiligheid.”

Die samewerking tussen AfriForum en die departement is ’n uitstekende voorbeeld van hoe gemeenskapsgebaseerde organisasies met die regering kan saamwerk om natuurlike hulpbronne te beskerm.

“Dit is van kardinale belang dat ons aanhou werk om ons natuurlike hulpbronne te beskerm om te verseker dat dit nog daar is vir toekomstige geslagte om te geniet. Die pogings van AfriForum se Overstrand-tak en die departement dien as ’n herinnering dat ons almal ’n rol het om te vervul vir die beskerming van ons omgewing,” sê Benade.

“Besoekers aan die marienereservaat moet kennis neem van die nuwe kennisgewingborde en bakens en die riglyne volg wat deur die departement uiteengesit is. Hierdie riglyne bestaan om die veiligheid van besoekers en die natuurlewe in die gebied te verseker. Deur hierdie riglyne te volg, kan besoekers die skoonheid van die reservaat geniet terwyl hulle ook hul deel doen om die omgewing te beskerm,” sluit Benade af.. Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum se Overstrand-tak en Alfa-buurtwag betrokke te raak: Besoek www.wordlid.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article