DIe inwoners van Botrivier het hulle na AfriForum gewend vir hulp.

Inwoners van Botrivier het hulle tot die burgerregteorganisasie AfriForum gewend vir hulp nadat die Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK) volgens berigte gefaal het om aan hul misnoeë gehoor te gee.

Volgens ‘n skrywe van AfriForum is TWK in die proses om ‘n nuwe onwettige rioolverwerkingsaanleg en vullis-oorlaaistasie in Botrivier op te rig. Wat die Botrivier-inwoners rooi laat sien, is die feit dat hierdie oprigting na bewering beoog word sonder die nodige sonering, omgewingsmagtiging of bouplanne en dat dit glo binne 25 meter van ‘n gevestigde woonbuurt sal wees. Die mense wat glo hierdeur geraak gaan word, is die inwoners van Skoolstraat en Botrivier-landgoed.

“Verskeie skrywes is al aan die munisipaliteit gerig om ‘n moratorium op die oprig van die rioolverwerkingsaanleg en vullis-oorlaaistasie te plaas,” het Marique van Dalen, AfriForum se distrikskoördineerder van Boland-gemeenskapstrukture, gesê. “Ons het selfs ‘n oplossing aangebied vir ‘n ander ligging en selfs ‘n goedkoper toegeruste projek, nietemin is dit bloot afgeskiet en met vyandigheid bejeën.”

Volgens haar is ander bekommernisse oor die twee aanlegte die besmetting van watervoorraad, sterilisering van omliggende grond, die nadelige invloed op landbou van die plaas 1023 Caledon – wat ‘n wynplaas is – die verwoesting van ‘n gevestigde woonbuurt, gesondheidsrisiko’s vir inwoners van die nabygeleë woonbuurt en die verlaging van eiendomswaarde in die gebied.

Die munisipale bestuurder van die TWK, Walter Hendricks, het egter beklemtoon dat die rioolverwerkingsaanleg en die vullisoorlaaistasie twee verskillende fasiliteite is.

“Die TWK erken die verkeerde sonering van die vullis-oorlaaistasie en bevestig dat dit geskuif gaan word, onderhewig aan begrotingsbeskikbaarheid en die identifisering van ‘n geskikte alternatiewe ligging,” het Hendricks gesê. Volgens hom is die riool-verwerkingsaanleg nie ‘n nuwe fasiliteit nie. “Die aanleg bestaan ​​al sedert voor die stigting van die TWK in Desember 2000. Dit is oorspronklik in 1994 deur die Botrivier- plaaslike raad goedgekeur, met hersonering vir die huidige terrein, en word deur die departement van water en sanitasie erken. Die huidige werke is ‘n opgradering en uitbreiding binne die oorspronklik goedgekeurde plan van 3 000 m².

“Geen van die werke wat deel vorm van Fase 2 van hierdie opgradering veroorsaak enige gelyste aktiwiteite of omgewingskwessies ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur nie en alle vereistes is nagekom. Die opgradering sal in werklikheid baie van die geopperde kwessies die hoof bied terwyl dit ook toekomstige behuisings- en ekonomiese ontwikkeling in Botrivier ondersteun,” aldus Hendricks.

Hermanus Times het dokumente wat bewys dat die uitbreiding van die riool-verwerkingsaanleg wel buite die gesoneerde grond is en briewe tussen inwoners en die munisipaliteit oor die wyse waarop die situasie hanteer is. Volgens die briewe bestaan geen goedgekeurde planne nie en inwoners het verskeie klagtes by die munisipaliteit aangemeld – sonder dat enigsins daarop gereageer is. Die inwoners het ook alternatiewe en goedkoper planne aan die munisipaliteit voorgelê, wat net summier afgeskiet is.

In Junie is daar weer ‘n brief aan TWK gerig waarin hulle melding maak dat hulle wel aan die versoek voldoen het om ‘n soortgelyke rioolverwerkingsaanleg aan die TWK voor te hou en dat die voorstelle minder sal kos as die huidige R43 miljoen.

Verdere korrespondensie deur AfriForum is ook na die munisipaliteit gestuur – sonder enige sukses. Volgens AfriForum het hulle ‘n PAIA-aansoek (die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting) ingedien waarop hulle twee weke gelede antwoorde ontvang het wat bewyse lewer van hul bewerings en gaan hulle verdere stappe neem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article