AfriForum se Alfa-buurtwag in die Overstrand het die afgelope maand verskeie suksesse in die voorkoming en bekamping van misdaad behaal.

Dié organisasie bied ook ondersteuning aan die plaaslike polisie sowel as ander rolspelers in die veiligheidsektor in die gemeenskap.

Die buurtwag het onlangs in samewerking met AfriForum se Bravo-buurtwag in Fisherhaven, Overstrand-wetstoepassing en die polisie gehelp om ’n gesteelde voertuig in Hawston op te spoor.

Dié buurtwag het ook verskeie verdagtes, wat by ander misdaad betrokke was, vasgetrek en aan die polisie oorhandig sodat die sake ondersoek kan word.

Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder in die Boland, sê die Overstrand-tak het ook aan verskeie hommeltuig-soektogte saam met ander rolspelers en AfriForum-buurtwagte oor Suid-Afrika heen deelgeneem.

“Die polisie, Overstrand-wetstoepassing se taakspan, CapeNature en die departement van bosbou, visserye en omgewingsake (DFFE) het ook optredes saam met dié buurtwag uitgevoer,” het Benade gesê.

Die buurtwag het al ’n geruime tyd samewerkingsooreenkomste met verskeie private veiligheidsmaatskappye in die omgewing, wat help om die gebied te beveilig.

Hulle verleen deurentyd lugsteun in die Fernkloof-natuurreservaat om misdaad te takel en reageer gereeld op plaasaanvalle in die Overberg-gebied.

Die buurtwag het die polisie byvoorbeeld op 29 Junie gehelp om buitelanders ná onrus in Zwelihle na veiligheid te bring.

“AfriForum se Overstrand-tak en die Alfa-buurtwag is steunpilare in hul gemeenskap. Lourens Theron, die tak se veiligheidsvoorsitter en buurtwagleier, is passievol oor veiligheid en die buurtwag en hul suksesstories spreek vanself. Die dorp en sy mense is veiliger danksy die Alfa-buurtwag,” het Benade bygevoeg.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum se Overstrand-tak en Alfa-buurtwag betrokke te raak. Bel Jacques Benade by 081 217 0008 vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.