Die burgerregteorganisasie AfriForum se Overstrand-tak het Vrydag (16 September) weer ’n bekendstellingsgeleentheid by Rivendell by Botrivier gehou.
“Dit was maar net weer om vir die mense te sê ons is hier, en ook om die inwoners wat ’n bydrae tot Afrikaans lewer, te vereer,” het Fanie Coetzee, voorsitter van die Overstrand-tak, gesê.
Inwoners soos die bekende aktrise en filmvervaardiger Katinka Heyns en die wynmaker Bartho Eksteen is by die saamtrek vereer. Gaste is ook verras toe Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van AfriForum, en die bekende advokaat Gerrie Nel, die aand saam met hulle deurgebring het.
AfriForum se Overstrand-tak het al diep spore in die gemeenskap getrap en het met sy Alfa-buurtwag al verskeie misdrywe hokgeslaan. Nie net is hulle gereeld by skole betrokke nie, maar het ook daartoe bygedra dat veiligheidskameras in 2021 in Vermont geïnstalleer is en hulle gebruik ook hommeltuie om misdaad te bekamp.
“Ons is hier vir die gemeenskap en ons wil graag met die gemeenskap hande vat om die Overstrand vir almal veilig te maak,” het Coetzee gesê.. AfriForum is ’n burgerregteorganisasie sonder winsoogmerk en het op 26 Maart 2006 tot stand gekom. Dié organisasie is gestig om Afrikaners buite die partypolitiek tot deelname aan die openbare debat en aksies op te roep.