Mitzi Buys
“Afrikaners is plesierig, dit kan jy my glo, hulle hou van partytjies, en dan maak hulle so.” En hulle hou daarvan om konsert te hou. Dít was baie duidelik tydens die onlangse konsert in Caledon ter viering van Afrikaans 100 jaar as amptelike taal.
Dié konsert, wat deur die Caledon- Dameskring, die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), die Caledon- Rapportryers, die Kaapse Forum en
Afrikaans Amptelik 100 aangebied is, was ‘n reusesukses met alle kaartjies wat lank voor die tyd reeds uitverkoop is.
Wat die konsert so besonders gemaak het, is dat alle deelnemers behalwe die bekende aktrise Annette Engelbrecht, wat deesdae in Napier woon, plaaslik was. Die seremoniemeester, Heindrich Wyngaard, ‘n bekende Caledonner en voorsitter van die Kaapse Forum asook lid van die oorsigkomitee van die
Afrikaans Amptelik 100-veldtog, het die verwelkoming gedoen, waarna eerwaarde Patty Edwards die opening waargeneem het. Die propvol program het ‘n heerlike verskeidenheid items aangebied, wat samesang van geestelike liedjies, lekker
saam-sing-liedjies en FAK-keurspel, koorsang van die Laerskool Overberg se senior koor, ‘n videovertoning oor die ontstaan van Afrikaans deur die personeel van die Hoërskool Overberg, kletsrym deur Naheam Pearson van Swartberg Primêr en gedigte voorgedra deur Ella du Toit en Shani Beukes van die Laerskool Overberg.
Die Hoërskool Overberg het ‘n kort toneelstuk aangebied, die Overberg-
onderwysdistrikkoor het ‘n sangitem gelewer en Marietjie Visagie en Marna Jacobs het voorlesings gedoen. Lizël Kimber het twee gedigte van die bekende Caledon-gebore P.J. Philander voorgelees.
C.M. Augustyn was die gespreksleier
in die “Maak-‘n-Las”-item, waaraan Werner Swart, Wikus Augustyn en Nici Fouldien deelgeneem het. Nici se vertelling van byname van mense in haar straat het die gehoor laat skaterlag. In ‘n prosastuk van Hennie Aucamp het
Annette Engelbrecht nie net bewys dat sy ‘n uiters ervare aktrise is nie, maar ook hoekom sy so gewild en bemind is.
Tydens die samesang, wat deur C.M. Augustyn, Frikkie Lubbe en Retief Groenewald gelei is, met Tiaan Smal op die kitaar en Wessel Swart agter die klavier, het die gehoor uit volle bors saamgesing
en dít het die konsert spesiaal gemaak.
Fana de Wet van die Caledon-
Dameskring het besluit om vir haar beurt iets vir die Dameskring aan te bied, ‘n konsert te reël om Afrikaans te vier. Fana, wat die program saamgestel het, sê: “Ek wou almal, wat in Caledon Afrikaans praat, betrek. Dit was vir my ‘n riem onder die hart om ‘n vol saal te sien met mense wat dol is op Afrikaans. My hart is vol en my beker loop oor.
“Iets wat my ontsettend aangemoedig het, was die entoesiasme waarmee élke deelnemer reageer het toe ek hulle genader het. Alles het volgens plan verloop en ek kon sit en die konsert geniet en ek wil álmal vir hul hulp en ondersteu-
ning bedank,” sê Fana.
Franceska Groenewald, voorsitter van die Overberg-ATKV, sê: “Die terugvoer
wat ons gekry het, was fantasties en almal het met dankbaarheid gepraat oor die moeite wat ons gedoen het. Ons is baie bly dat Afrikaans weer deur die konsert na vore kon kom.”
Heindrich Wyngaard sê: “Die konsert in Caledon om Afrikaans se 100ste jaar as amptelike taal te vier, was vir my ‘n bewys hoe een meens – Fana de Wet – so ‘n ongelooflike suksesvolle geleent-
heid aan die brand kon steek.
“Sy het dit gekonseptualiseer en Caledon, soos die res van die Overberg, is Afrikaanse wêreld.
“Dit sou ‘n absolute skande gewees het as ons nie so ‘n geselligheid gehad het nie en die deelnemers het my gewys hoekom ons volgende jaar maar weer een kan hou.”
Heerlike sop en brood, wat deur die Dameskring en die ATKV voorberei is, is vooraf bedien en na afloop van die konsert is tee en koffie voorgesit. Almal het ‘n geskenkpakkie met ‘n koeksister, ‘n melktertjie en skuinskoek ontvang.
Die konsert is op gepaste wyse met samesang van “Heer ons dink aan Afrika” afgesluit. Die konsert was ‘n reusesukses en almal met wie Hermanus Times na afloop van die konsert gepraat het, het genoem hoe baie hulle dit geniet het en nie kan wag om weer ‘n keer so lekker te kan saamsing nie.


