Dis ‘n klein weggesteekte dorpie in die Overberg waarvan min mense weet, maar glo dit of nie – nadat Afrikaans se “Afrikaans Amptelik 100”-komitee besluit het om Genadendal deel van sy feesviering te maak, is dié dorpie op almal se lippe.

Genadendal, of Genaal soos dit in die volksmond bekend staan, is nie net die eerste sendingdorpie in Suid-Afrika nie, maar die amptelike tuiste van Afrikaans. Die voorsitter van die Vriende van die Genadendal-sendingmuseum, Creswell Adonis, vertel trots hoe Moeder Lena van die sendingstasie – lank voordat Afrikaans amptelik ‘n taal geword het – ‘n mengsel van Nederlands en Khoi met die kinders gepraat het. Dit was die begin van Afrikaans. Die eerste Afrikaanse koerant, Die Bode van Genadendal (1859), is hier gedruk en die dorpie met sy uitsonderlike argitektuur was die tuiste van die eerste onderwyskollege.

“In Genadendal leef die taal – nie net in boeke of argiewe nie, maar in die klanke van kinders wat speel, in gebede wat fluisterend opgaan en in stories wat van geslag tot geslag oorvertel word,” vertel Adonis. “Dit is hier waar Afrikaans begin het om gestalte te kry – nie as ‘n taal van mag nie, maar as ‘n taal van mense; mense wat geglo het aan die krag van hul eie stem. In die drukgang van die eerste pers, in die lesingsale van die oudste onderwyskollege en in die eenvoud van die historiese werf – hier het Afrikaans sy eerste treë gegee.”

As ‘n mens die geskiedenis in ag neem, kan dit nie anders as dat Genadendal een van die drie plekke in die Wes-Kaap is waar Afrikaans gevier word nie. Die ander plekke was die Bo-Kaap en Paarl. Vrydag was die gewoonlik stil dorpie met perde wat in die strate loop en mense wat jou vriendelik groet in rep en roer met al die besoekers. Judith Balie, die kurator van die Genadendal-museum, sê hulle het behoorlik bontgestaan om alles reg te kry. Genadendal se eie blaasorkes het die gaste met Afrikaanse musiek verwelkom en die feeslike atmosfeer was voelbaar.

“Ons was baie opgewonde oor die fees wat hier gevier is en dit was ‘n naweek vol aktiwiteite – van gedenklesings in die Morawiese kerk en ‘n langtafelete tot ‘n aandmark. Verder het ons ook ‘n taaltoer en makietie aangebied,” vertel sy.

Die nasionale koördineerder van “Afrikaans Amptelik 100”, Giep van Zyl, en die adjunkkoordineerder, Rene Arendse, het die mense verwelkom.

“Om hier in die kerk te sit en aan die geskiedenis te dink, is iets wat ons bewoë maak. Wat ‘n voorreg is dit om hier te sit en die gebeurtenis te deel. Dit gaan nie weer in ons leeftyd gebeur nie,” het Van Zyl gesê.

Een van die hoogtepunte was die gedenklesing van prof. Charlyn Dyers, wie se wortels diep in Gendadendal lê. Dié emeritus professor in linguistiek aan die Universiteit van Wes-Kaapland spesialiseer in die studie van taaldiversiteit in tersiêre opvoeding, die taal- en geletterheidspraktyke van mense in nuwe behuisingskemas in Kaapstad, asook taalhoudings en ideologieë. Sy is ook die skrywer en regisseur van die drama Moeder Lena, wat in Genadendal tydens die viering van die 275ste bestaansjaar van die Moraweise Kerk in Suid-Afrika opgevoer is. Sy het met trots die rol wat Genadendal gespeel het aan die feesgangers in Afrikaans verduidelik.

Dr. Theuns Eloff, die direksievoorsitter van “Afrikaans Amptelik 100”, het dit in sy toespraak duidelik gestel dat ‘n mens altyd verby die afrit van Genadendal ry, maar dat die dorpie iets is wat elkeen moet beleef, want as jy Genadendal binnekom, betree jy gewyde grond.

Adonis sluit af met die treffende woorde: “Genadendal was nooit net ‘n plek nie – dit was ‘n begin; ‘n begin van iets wat sou groei tot ‘n taal wat miljoene se harte aanraak …” En dit is wat Genadendal is – dit is ‘n stukkie geskiedenis wat jou laat dink, wat jou trots laat voel en wat jou laat besef dat Afrikaans nog lank gaan voortbestaan.

Die Genadendal-blaasorkes het die feesgangers met heerlike Afrikaanse musiek bederf.
Die Morawiese kerk se verteenwoordiger, biskop dr. Jerome Slamat.
Mine Arries, Jayden Williams, Judith Balie en Chris Cloete. Foto’s: Mitzi Buys

You need to be Logged In to leave a comment.