Die plaaslike akteur Jaco Koen van Riviersonderend gaan die Overberg by ‘n rolprentfees in Spanje verteenwoordig.

Vir Jaco Koen van Riviersonderend is kuns – en om kuns onder die jeug te ontwikkel – absoluut alles. Hy is nie net aktief by die jeug in die Overberg betrokke nie, maar ook die brein agter die jeugontwikkelingsinisiatief Funky Force.

Jaco is ook ‘n akteur van formaat en van 21 tot 28 November gaan hy die Overberg by die 67ste Zinebe-dokumentêre rolprentfees in Spanje verteenwoordig. Dié eer het hom te beurt geval nadat hy in die spanningsrolprent The Meeting verskyn het. The Meeting is deur die bekroonde Nic Matthee vervaardig.

Jaco, wie se passie vir die fliek in Spanje vertoon sal word, sê dit beteken baie vir hom as ‘n “verteenwoordiger van my gemeenskap”.

Jaco vertolk ‘n karakter in die fliek, wat Sebbie (die hoofkarakter) waarsku oor sy vrou se ontrouheid en die sameswerings wat deur sy suster en haar vriende teen hom beplan word. Die verhaal volg Sebbie se lewe waar hy ‘n vergadering belê waar almal wat hom wil leed aandoen, teenwoordig is – en dit is waar die kinkel in die kabel kom.

The Meeting sal op 30 Oktober op Red Moon Productions se YouTube-kanaal en op Tubi TV bekendgestel word. Die draaiboek is deur Matthee geskryf en hy het ook die regie gedoen. Hy het internasionale erkenning in Arizona in die VSA, Berlyn in Duitsland en Istanbul in Turkye ontvang vir flieks soos Death Angel, Uncle Billy en Aapie.

Funky Force-jeugontwikkeling is aktief betrokke by verskeie kuns ondernemings, insluitend musiek en toneelspel, en moedig jong kreatiewe individue aan om hul prestasie-vermoë te verken en ‘n positiewe invloed binne die gemeenskap en daarbuite te bewerkstellig.

“My motivering is om as ‘n stepping stone vir baie te dien; my droom is om meer uitvoerendekunste-inisiatiewe te vestig. Ten spyte daarvan dat ek hindernisse en finansiële uitdagings in die gesig staar, sien ek nie myself stadig word nie; om vorentoe te beweeg is die verpersoonliking van wilskrag,” het Jaco gesê. As jeugontwikkelaar bevorder hy ook verhoudings tussen talle organisasies. Jaco bly standvastig in sy doelwitte en bevorder ‘n positiewe belangstelling in jeug-akademie en vermaak en dien as ‘n inspirasie.

You need to be Logged In to leave a comment.