Aktivis stap van Kaapstad tot in Kaïro en maak draai in Hermanus

Min Suid-Afrikaners weet van hom, maar as jy hom eers “google” en sy lewenspad en sien watter uitwerking hy al in die wêreld gemaak het, dan voel dit vir jou of die Overberg geseënd is om hom in ons teenwoordigheid te hê.


Min Suid-Afrikaners weet van hom, maar as jy hom eers “google” en sy lewenspad en sien watter uitwerking hy al in die wêreld gemaak het, dan voel dit vir jou of die Overberg geseënd is om hom in ons teenwoordigheid te hê.

Dr. John Francis, of die Planetwalker, soos hy alom bekendstaan, het Vrydag 19 Januarie in die Overberg aangekom waar hy die meer as 9 000 km-staptog van Kaapstad na Kaïro meemaak. Francis het saam met GLOBE, ’n wêreldwye wetenskap en opvoedkundige organisasie wat op die omgewing fokus, gespan om van Januarie tot Maart van Kaapstad tot Kaïro te stap. Hulle stap saam met leerders wat deel is van Globe om meer te leer van die omgewing en om bewustheid te skep rakende bewaring. Francis se doel met die uitmergelende staptog is om die omgewingsprobleme onder die mense en veral die jeug te bring. Soos hy dit stel: “How we treat each other is how we treat the environment.”

Die storie agter Francis klink soos ’n National Geographic-dokumentêr. Nadat hy die oliestorting van San Francisco Bay in 1971 beleef het, asook die omgewingsprobleme en rassekwessies, het dié merkwaardige man besluit om van geen vervoer afhanklik te wees nie – 22 jaar al. Om sy liefde vir die omgewing en gelykheid verder te beklemtoon, het hy ook ’n gelofte van stilte vir 17 jaar gevolg om sodoende ’n beter luisteraar te wees.

Francis, wat ’n doktorsgraad in omgewingstudies het, is ’n gerespekteerde rolmodel vir menige en ’n internasionale spreker wat al voor staatsleiers opgetree het asook die voormalige Goodwill-ambassadeur van die World’s Grassroots Communities for the United Nations Environment-rogram. Verder het hy ook verskeie boeke geskryf, waaronder Human Kindness: True Stories of Compassion and Generosity that Changed the world.

Sy liefde vir die natuur kom al van kindsbeen af waar hy vakansies op sy oom se plaas in Virginia in Amerika gekuier het. Hy het in ’n onderhoud in National Geographic gesê: “There was no electricity on the farm, so days were spent working by the rhythm of the sun and that experience stayed with me.”

Vir Francis is dit lekker om nuwe mense te ontmoet en nuwe plekke te ontdek. Hy het onder meer al deur die hele Suid-Amerika gestap, na die Karibiese eilande gevaar en ’n draai in Antartika gemaak. En vanjaar is Afrika aan die beurt . . .

Francis se raad aan almal wat soos hy ’n omgewingsaktivis wil wees, is om deur jou buurt te stap, te sien waar in jou buurt jy ’n verskil kan maak, en te luister na die natuur en jou medemens.

Tydens Francis se staptog by Arabella het hy die jeug van Zwelihle toegespreek en dié wyse raad met hulle gedeel: “Walking is an opportunity to get to know a place and its people – all part of the environment. How we treat each other, is the first step to understand how we relate to the environment. In our power, each date to manage our relationships, we help by being kind to each other. Our kindness manifests around us! As our future, you need to practice kindness.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.