AfriForum-buurtwagte se hommeltuig-vlieëniers is so goed dat hulle selfs in die ergste weerstoestande mense oor lang afstande kan opspoor.
Theo Turner, die operasionele leier van AfriForum se Stellenbosch-buurtwag, vertel dít is presies wat gebeur het toe die polisie hul hulp op 5 Junie ingeroep het om na ’n vermiste vrou, wat in Pniël verdwyn het, te soek.
Volgens Turner het hulle die hulp van Afriforum se Overstrand-buurtwag ingeroep aangesien gure weer die Stellenbosch-tak verhoed het om hul Mavic 3-hommeltuig te gebruik. Die Overstrand-buurtwag het toegang tot die groter Matrice 30T (M30T)-hommeltuig, wat in gure weerstoestande kan vlieg.
Die Overstrand-span is onder leiding van Lourens Theron na die Banghoekrivier geneem, waar mense na die vrou gesoek het. Die Overstrand-buurtwag se hommeltuig het meer as twee ure gevlieg en sowat 14 km afgelê om die gebied te fynkam. “Danksy dié hommeltuig en die spanne op voetsoolvlak is klere en ’n bril gevind. Die soekgeselskap het ook op ’n stuk tou afgekom, wat aan ’n boom naby die rivier vasgemaak was. Nadat die watervlak gesak het, het die polisie na die gebied teruggekeer. Dit was toe dat beamptes op die liggaam van die vermiste vrou in die rivier afgekom het.
“Die polisie ondersoek ’n saak van moord.”

