Hoewel hulle alles, waaronder onvervangbare familiefoto’s, verloor het toe vlamme hul huis verswelg het, is ’n gesin van Bredasdorp dankbaar dat hul lewens gespaar is.
Brandon Afrika (40) en sy gesin het Woensdag 5 Januarie in die vroeë ure hulpeloos toegekyk hoe hul huis – ironies genoeg in Brandstraat – en alles daarin deur die vlamme verteer word.
Teen die tyd dat sy oudste seun Bradwin hom omstreeks 02:30 wakker gemaak het, vertel Afrika, was die vlamme in die voorste deel van die huis reeds dakhoogte.
“Ek het twee brandblussers, maar dit het niks gehelp nie, want die vlamme was te groot,” vertel Afrika. “Die bure het gekom om hand by te sit en ons het die vlamme probeer doodspuit. Die brandweer het omtrent ’n halfuur later opgedaag.”
’n Inwoner van die dorp, wat verkies om nie sy naam te noem nie, beweer die brandweer, wat ongeveer 1 km van die toneel af is, het te lank geneem om op te daag.
“Die inwoners van Bredasdorp is baie ongelukkig dat die brandweer so lank vat om te reageer. Blykbaar is die personeel tuis deur die nag en moet hulle by hulle wonings opgelaai word,” sê die man.Kosbare herinneringe verwoes
Die familie het net met die klere aan hul lyf uit die brandende huis ontsnap, maar Afrika se vrou, Dorothea, het gelukkig daarin geslaag om ’n tas met belangrike dokumente, soos dié van die versekering, te red. Die versekering het intussen gereël dat wagte die perseel oppas.
Hulle kon ook ’n paar stukke meubels uit die agterste kamer red.
Om te sien hoe alles waarvoor hulle hul lewe lank hard gewerk het, verwoes is, sê Afrika, was erg traumaties.
“Ons het baie memories verloor – familie-albums, foto’s van oumas en oupas, en erfgoed. Dis alles goed wat ons nooit sal kan vervang nie. Ek is net dankbaar vir die Here dat niemand ernstig seergekry of omgekom het nie.”
Die kleuterskool wat Dorothea van hul huis af bedryf het, is ook geraak. Volgens Afrika het mense reeds hulp in dié verband aangebied en sal die kleuterskool vir nou van ’n ander perseel af bedryf word.
Die Afrika-gesin het ook hul dank uitgespreek aan almal wat hulle tot dusver gehelp het.
“Ons is baie dankbaar vir almal se hulp, veral die Van Heerdens wat hul huis vir ons beskikbaar gestel het,” sê Afrika.
Terwyl hulle wag vir die versekeringseis om afgehandel te word, het die gesin klere, beddegoed en meubels nodig. Enigeen wat wil help, kan Afrika by 073 625 8771 kontak of skenkings by Brandstraat 57 aflewer.
Gurswin Prins, die Kaap Agulhas-munisipaliteit se woordvoerder, sê: “Die KAM-rampbestuur het sy rampbestuurprosesse in werking gestel om die familie diensooreenkomstig die betrokke beleid van hulp te wees. Ons wetstoepassers was Woensdag 5 Januarie op die toneel.”
Die Overberg-distriksmunisipaliteit se hoof van brand- en reddingsdienste het nie op navrae gereageer nie.