Heidehof, ’n tehuis vir bejaardes, se tuin is Saterdag 30 November in ’n gesellige onderneming omgeskep toe ’n opwip-mark daar gehou is.
Sanet van Deventer, wat die opwip-mark gereël het, sê: “Ons dorp het soveel talent met mense wat dinge maak en dan sukkel om dit te verkoop. Ek het gevoel hierdie is ’n goeie geleentheid vir mense om hul produkte uit te stal en dit is ook sommer ’n geldinsameling vir Heidehof.
“Uitstallers huur hul ruimte vir ’n nominale bedrag en dié geld word dan aan Heidehof geskenk.”
Besoekers kon uit ’n verskeidenheid produkte kies, wat gewissel het van handgemaakte oorbelle, klere (nuut en tweedehands), dekor-items, kruie- en vetplantjies en baie ander.
Heerlike worsrolletjies was ook te koop. Dit was ook ’n ideale geleentheid om nog ’n paar Kersgeskenkies aan te skaf.
Van Deventer sê sy gaan gewis weer so ’n opwip-mark reël.