Almal spring in

Almal sit nie elke dag om dieselfde vuur nie, maar as die nood druk, het Grabouw-inwoners gewys dit is ’n gemeenskap wat kan saamstaan as daar ’n ramp is.


Almal sit nie elke dag om dieselfde vuur nie, maar as die nood druk, het Grabouw-inwoners gewys dit is ’n gemeenskap wat kan saamstaan as daar ’n ramp is.

Ná Vrydag se brand, wat by Elgin Fruit Juices in die nywerheidsgebied uitgebreek en talle mense dakloos gelaat het, het inwoners en sakeondernemings ingespring om ’n verskil te maak.

Vinnig is boodskappe op WhatsApp-groepe gestuur oor die mense wat deur die brand geraak is en dat hulle kos en klere benodig. Nie net het sakeondernemings ingespring nie, maar ook inwoners.

“Ons het brood, skyfies, klere, beddegoed en ander kos in ’n japtrap bymekaargemaak en dit na die slagoffers by die gemeenskapsaal gebring,” het een van die organiseerders gesê.

Grabouw-SuperSpar het ook kos – nie net aan die slagoffers nie, maar ook aan die mense wat gehelp het om die vuur in bedwang te bring – geskenk.

“Ons wil net namens Elgin Fruit Juices vir die bestuur en personeel van Grabouw-SuperSpar baie, baie dankie sê. Julle het uit jul pad gegaan om my te help om kos voor te berei vir die personeel en mense wat gehelp het om die vlamme in bedwang te bring. Baie dankie vir die skenkings; ons waardeer dit opreg,” het iemand op Facebook geskryf.

Die Theewaterskloof-munisipaliteit het ook nie op hom laat wag nie en Vrydag reeds te kenne gegee hy gaan verligting aan die nagenoeg 200 slagoffers bring. Die munisipaliteit het nie net Saterdag douvoordag met opruimingswerk begin nie, maar ook ingespring om almal te help.

“Saterdag het ons dadelik 95 komberse aan die slagoffers gaan oorhandig en 44 begin-pakkette boumateriaal is ook aan die slagoffers oorhandig. Ons is besig om ander produkte ook in te win,” het Wilfred Schrevian Evan Solomons-Johannes, direkteur van die munisipaliteit se gemeenskapsdienste, gesê.

Die departement van binnelandse sake het ook volgens Johannes bevestig dat hy sy samewerking sal gee om die slagoffers met hul identiteitsdokumente en Sassa-dokumentasie te help.

“Die TWK is oorweldig deur die ondersteuning wat die sakeondernemings, kerke en inwoners gebied het. Ons kan ook bevestig dat Gift of the Givers vir ons skenkings gegee het,” het Johannes gesê.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.