Alternatiewe kragbronne moet aan standaarde voldoen.


Die hoë koste van elektrisiteit gee aanleiding daartoe dat verbruikers hulle na alternatiewe kragbronne wend soos sonpanele, kragopwekkers en batterye wat deur middel van omsetter tegnologie elektrisiteit aan woonhuise en besighede verskaf. Volgens ‘n mediaverklaring van die Theewaterskloof-munisipaliteit, moet die elektriese toevoer na woonhuise en ondernemings, voldoen aan die minimumstandaarde.

“Die doel van die standaarde is om te verseker dat die elektriese netwerk stabiel en veilig is vir verbruikers. Om die rede, moet die koppeling van sonpaneelstelsels en kragopwekkers gereguleer word,” lui die verklaring. Die TWK het riglyne aanvaar in terme van die NRS-riglyne en daarom moet enige persoon, binne die grense van Theewaterskloof-munisipaliteit, wat deur die munisipaliteit van elektrisiteit voorsien word, aansoek doen om enige stelsel te installeer wat aan die munisipaliteit se netwerk gekoppel word.

“Indien enige verbruiker versuim om die nodige aansoeke en toestemmings te kry, kan die verbruiker ‘n boete opgelê word, soos deur die raad aanvaar is. Die perseel se toevoer kan ook afgesit word totdat die onwettige stelsel ontkoppel en geïsoleer is van die netwerk. Ons wil dus vra, dat u as verbruiker, nie sal toelaat dat sodanige stelsels aan u installasie gekoppel word alvorens toestemming by die Munisipaliteit nie verkry is nie,” lui die verklaring.Van die inwoners dink nie dis ‘n goeie idee nie en sien rooi. Dit het behoorlik op Facebook gegons nadat die inligting bekend gemaak is. “Die raad moet ophou van ons steel,” was een man se kommentaar op Facebook.’n Ander inwoner is van mening dat daar seker belasting daarop geplaas gaan word.

“Hulle sal nou enige regulasies daarstel. Mense sit al jare lank sonpanele op en nou eweskielik gaan hulle Jan Publiek gebruik om hulle skuld te betaal deur kragtarriewe die hoogtes in te stuur.”Vir nog inligting rakende dié vereistes kan JP van Niekerk gebel word by 028 214 3300 of stuur ‘n e-pos na  johannesva@twk.org.za.

You need to be Logged In to leave a comment.