Die Wes-Kaap se provinsiale sportkonfederasie het kort ná
president Cyril Ramaphosa se vergadering oor die verandering na Vlak
4-regulasies aangekondig dat alle amateursportaktiwiteite in die Wes-Kaap
onmiddellik gestop word.
Volgens die sportkonfederasie is dié besluit geneem om die
verspreiding van die Covid-19-virus te bekamp en die feit dat interprovinsiale
reise na Gauteng verbied is.
“Alle amateursportsoorte in die Wes-Kaap moet uitgestel of
gekanseleer word met onmiddellike effek vir die volgende 14 dae. Dit sluit
klubs, distrikte, provinsiale en nasionale aktiwiteite in en dit sluit ook
junior en senior sportaktiwiteite in,” sê JP Naude die president van die
Wes-Kaap se provinsiale sportkonfederasie. Die onmiddellike besluit van die
sportkonfederasie sluit in alle formele en informele sportbyeenkomste asook
privaat en institutionele sportbyeenkomstes. “Dit beteken ook dat daar nie by
enige lokaal of sportveld sport geoefen mag word nie,” verduidelik Naude.
Nanette Ras, Hoërskool Hermanus se bemarkingsbeampte, sê die
skool ondersteun hierdie besluit ten volle. “Die leerders se veiligheid en
gesondheid sal altyd eerste prioriteit ontvang daarom is die
kondisioneringsprogram by een van die plaaslike gimnasiums verlede week reeds
op hou ys gesit tot verdere kennisgewing. Daar is geen twyfel dat oefening en
sport ‘n positiewe bydrae tot leerders se gemoed en prestasies lewer nie – dit
hou nie net ‘n fisieke voordeel in nie. Dit is die skool se missie om gebalanseerde
omstandighede te skep waar akademie, sport, kultuur en die dienspilaar ewe aan
deelgeneem word. Ons hoop en glo dat hierdie nodige opskorting teen Augustus of
September opgehef sal word, en dat ons steeds ons interskole wedstryde teen
Worcester Gimnasium kan speel,” sê Ras.