Appel val reg langs boom

Die appel val nie ver van die boom af nie . . . Die raadslid en burgemeesterskomiteelid van die Overstrand-munisipaliteit, Ronald Nutt, volg nie net in sy pa, Robert, se voetspore om in die bediening te wees nie, maar sy pa is ook sy held en die een


Die appel val nie ver van die boom af nie . . . Die raadslid en burgemeesterskomiteelid van die Overstrand-munisipaliteit, Ronald Nutt, volg nie net in sy pa, Robert, se voetspore om in die bediening te wees nie, maar sy pa is ook sy held en die een na wie hy opkyk.

“My pa is my held. Hy lei deur voorbeeld en staan vas op die beginsels wat in die Bybel vasgelê is. Sy moeilike grootword­jare onder Apartheid het baie letsels gelaat, maar deur vergifnis uit te spreek, het dit hom suksesvol deur alles gelei. My pa is ons rots en net een wonderlike mens.”

Die Nutts het nie net diep spore in Mount Pleasant getrap nie, maar ook in Hermanus. Robert kom van Upington en het in 1970 na Hermanus verhuis, waar hy die liefde van sy lewe, Daphne, ontmoet het. Drie seuns is uit die huwelik gebore, en sewe kleinkinders het die grootouers se harte volgemaak. “Ons almal staan in die bediening, en dit is belangrik vir ons om Jesus Christus se liefde uit te straal. As die ooms, tantes, niggies en neefs almal op een plek is, moet jy behoorlik kophou, want ons eet, praat en lag tegelykertyd,” vertel hy.

Vandat Ronald kan onthou, is sy pa by die kerk (Apostoliese bediening) se leierskap betrokke. “Hy het sy liefde vir die Here en sy liefde vir sy bediening só sterk uitgebeeld dat ek nie ’n keuse gehad het as om hom te volg nie. Ek en my broers, Robert en Edgar, sowel as my ma en skoonsusters is almal in die bedie­ning,” vertel hy. “Dis voorwaar ’n seën.”

Ronald het baie by sy pa geleer en volgens hom is van die beste raad wat sy pa hom al gegee het, om nederig te bly en net homself te wees. “Wees net jouself en luister na die stem van die Here wanneer Hy met jou praat. My pa hou nie van hoogmoedigheid nie, en dit is een van die redes waarom so baie mense hom ‘hul pastoor’ noem.”

Robert en Ronald is deur prof. Jacob Prins van die organisasie Community Skills Development & Bible Centre vir eredoktorsgrade in Goddelikheid van die geakkrediteerde organisasie All Nations Bible Institue & Project benoem. “My pa is benoem vir sy jare lange geestelike en Christelike diens (48 jaar) aan die gemeenskappe in die Overstrand, Overberg en die Wes- en Noord-Kaap. Van die 48 jaar was hy 40 jaar in ’n leierskapposisie en geestelike oorsiener van verskeie kerke en streke.

“Verder is hy ook benoem vir die persoonlike rol wat hy in die lewe van mense in die gemeenskappe gespeel het. Hy is ’n merk­waardige rolmodel en lewensafrigter wat dié erkenning verdien,” vertel Ronald trots.

Ronald is benoem vir sy geestelike werk in die Overstrand, Overberg en Wes-Kaap – veral sy evangelisasiewerk en musikale jeugbediening wat hy begin het toe hy maar net 15 jaar oud was. Nou, 32 jaar later, is hy steeds by die bediening betrokke. Die gemeenskapswerk wat hy in die omgewing doen, het ook sy benoe­ming beïnvloed.

“Dit is ’n groot prestasie wat ons te beurt geval het, maar alle eer aan die Hemelse Vader vir dit wat Hy in ons lewe doen,” sluit Ronald af.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.