Kyk, daar is min dinge wat kinders en volwassenes in gemeen het, maar as dit kom by ’n tandarts kry jonges en oues slapelose nagte. Veral as hulle weet hulle moet een die volgende dag besoek.
As jy egter eers by Kelzya Nadine Spandeel – ’n oudleerder van die Hoërskool Hermanus en vandag ’n tandarts in die dorp – ’n besoek aflê, kan jy maar seker wees dat jy nie meer die vrees sal hê nie. Nie net het sy ’n passie vir wat sy doen nie, maar sy werk só sorgvuldig dat jy amper in die “gevreesde stoel” aan die slaap kan raak.
Kelzya, ’n boorling van Bredasdorp, het toe sy in graad 10 was na Hermanus verhuis en beskou die mooi kusdorp as haar hometown.
Ná skool het sy geweet sy wil iets in die mediese bedryf doen. “Ek het geweet ek wil nie ’n mediese dokter word nie en ek het van jongs af daarvan gehou om na ’n tandarts te gaan.
“Die manier hoe higiënies en professioneel almal in ’n tandartspraktyk is en hoe mooi en goed dit ’n mens laat voel as jy by die deur uitstap, het my opgeval. Dit was altyd my droom om ander te laat glimlag en goed oor hulself te laat voel.
“Ek hou ook daarvan om met my hande te werk en almal het vir my gesê ek het goeie fyn motoriese vaardighede. Dit is seker waarom ek tandheelkunde gekies het,” vertel sy.
Haar ma, Christine, die operasionele bestuurder by die Hermanus provinsiale hospitaal, en die ortodontis dr. Desmond Murphy het haar ook gehelp om die finale besluit te neem om ’n tandarts te word.
“Hulle was definitief die motivering agter my besluit,” sê sy. Volgens haar wil sy graag verder studeer in ortodonsie en pediatrie en is dié besluit ook te danke aan Murphy.
Wat sy seker die meeste van haar beroep geniet, is die feit dat dit ’n kalm en rustige beroep is. “Jy werk teen jou eie tempo, wat beteken dat jy nie altyd onder druk is nie en ook nie baie spanning beleef nie.” Volgens haar is dit ’n beroep waarin jy die mooiste glimlagte ’n werklikheid kan maak, mense se pyn verlig en hulle help om ’n gesonde leefstyl te handhaaf.
Volgens haar is daar baie jongmense wat in hul omstandighede vasgevang is en nie weet wat hulle eendag moet doen nie, om nie eens te praat van groepsdruk nie.
Haar raad aan hulle is: “Die jong kinders van vandag moet nooit dink om ‘uit te voel’ en nie in te pas nie, is verkeerd nie. Fokus op wat belangrik is vir jou. Doen wat jou gelukkig maak en nie wat ander vir jou sê om te doen of wat jou vriende doen nie.
“Elkeen se paadjie is verskillend. Ek was ook ‘anders’, maar daardie ‘andersheid’ het my gebring waar ek vandag is. Moenie jouself onderskat nie en onthou, diamonds are formed under a lot of pressure, so pressure yourself into doing what you love.”