Daar is skaars plek vir nog ’n medalje om Mateo le Roux se nek. Hy is baie trots op al sy medaljes, maar die een wat hom die breedste laat glimlag, is die een wat hy in sy hand hou – die goue medalje wat hy by die onlangse Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskap by die Dal Josafat-stadion in die Paarl verower het.
Mateo is met ’n sprong van 1.97 m die Suid-Afrikaanse hoogspringkampioen vir seuns o.15.
Om dié besondere prestasie te behaal, het Mateo die afgelope jare baie hard geoefen. Hy neem al sedert sy laerskooldae aan hoogspring deel (“Mateo van Swartberg Primêr spring en mik hoog”, Hermanus Times, 13 April 2022). Die 15-jarige Mateo is ’n graad 8-leerder aan die Hoërskool Overberg in Caledon.
Dit verg harde werk en toewyding om deur al die streekskampioenskappe vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap te kwalifiseer. Mateo het die Wes-Kaapspan by die SA’s verteenwoordig. Tydens die Wes-Kaap-byeenkoms het hy die nuwe Wes-Kaap-rekordhouer met ’n sprong van 1.98 m geword. Tydens die ASA-uitnodigingsbyeenkoms, wat in Maart in Pretoria gehou is, het Mateo ook ’n goue medalje verower – met ’n sprong van 1.96 m.
Op ’n vraag van Hermanus Times of hy verwag het om te wen, sê Mateo: “Ek het gehoop daarvoor, maar nie eintlik verwag dat ek die beste [in my ouderdomsgroep] in Suid-Afrika gaan wees nie. Dit is ’n lekker gevoel en ek is baie trots op myself. Ek het gehoop om 2 m te spring, maar dit was nou nie so nie en dit is nou my mikpunt,” sê Mateo.
Mateo beklee ook die 53 ste posisie onder die top-100-beste presteerders onder hoërskoolatlete in die land. “Dit is ’n wonderlike gevoel dat ek dit kon bereik,” sê Mateo.
“Ek wil dankie sê vir almal wat my ondersteun het, die skool, my ma en my afrigter. Ek vra ook altyd vir die Here om my te help en bedank Hom ook ná elke sprong,” sê Mateo.
Maeve Jonkers, Mateo se ma, sê: “Ek het nie woorde om te beskryf hoe trots ek op Mateo is nie. Hy het twee jaar gelede, toe hy aan die SA’s deelgeneem en die vyfde plek behaal het, aan my gesê wanneer hy weer gaan deelneem, gaan hy op die podium staan, en nou het hy sy droom bewaarheid. Ek wil ook dankie sê vir die hulp en opoffering van sy afrigter.”
Die Hoërskool Overberg se hoof, Johan Jacobs sê: “Dis lekker om te sien as iemand ’n doelwit het en jy werk hard daarvoor en jy wys deursettings-vermoë dat jy wel sukses kan behaal – op verskeie vlakke; nie net noodwendig soos in Mateo se geval in sport nie, want dit is ’n voorbeeld vir alle leerders om hard te werk om sukses te behaal. Ons is baie trots op hom.”
Réleen Swart, Mateo se afrigter, sê: “Mateo het goeie verbetering getoon en baie hard gewerk om daar te kom. Ons oefen gedurende die atletiekseisoen elke aand. Ek is regtig super trots op hom.”
Uit die talle gelukwense wat op sosiale media ná Mateo se prestasie ingestroom het, is dit duidelik dat hy nie net die trots van sy skool is nie, maar ook dié van die hele Caledon.