Manfred Jacobs, Fiona Abrahams, Christa Myburgh en Marcelle Cilliers met van die kos- en higiënepakkies wat in Caledon uitgedeel is.Foto: Mitzi Buys


Met die opening van Avbob se lewensversekeringskantoor in Caledon ’n jaar gelede (“Avbob new office”: Hermanus Times, 15 November 2023) is kos- en higiënepakkies aan ’n aantal inwoners oorhandig.

Marcelle Cilliers, distriksbestuurder van versekeringsdienste, het by dié geleentheid genoem dat dit nie ’n eenmalige projek is nie.

Dit was verblydend om te sien dat Avbob sy woord gestand gedoen het deur Vrydag 29 November weer kos- en higiënepakkies aan ’n aantal begunstigdes uit te deel.

Fiona Abrahams, streekbestuurder: menslike hulpbronne, sê: “Ons wil graag teruggee aan die gemeenskap. Ons sien die behoefte in ons gemeenskappe en dat mense swaarkry. Ons neem ’n gedeelte van die geld wat deur Avbob se Korporatiewe Maatskaplike Beleggingsdepartement (KMB) aan ons beskikbaar gestel word en koop daarmee kospakkies sowel as higiënepakkies. Ons gaan uit en identifiseer gebiede waar die nood groot is.”

Manfred Jacobs van Avbob se provinsiale kantoor sê: “Ons weet die nood is groot en ongelukkig kan ons nie almal help nie. Ons het verskeie ander projekte waarby ons betrokke is, waarvan die onlangse trolliebiblioteek in Botrivier een was. (“Leerders in hul skik met nuwe boeke”: Hermanus Times 20 November 2024). Hopelik, met die Here se genade, kan ons volgende jaar weer iets doen.”

“Ek is baie trots om te kan sê ek is deel hiervan,” sê Marcelle Cilliers. “ ’n Mens dink altyd wanneer jy van Avbob praat, dan praat ’n mens oor die dood. Maar vandag vier ons die lewe. Die lewe is nie altyd maklik nie en hierdie is ’n manier hoe ons aan die gemeenskap kan teruggee.”

Abrahams sê tydens hierdie projek, wat verskeie gebiede in die Wes-Kaap ingesluit het, is altesaam 1 900 pakkies uitgedeel.

In die Overberg-streek is kos-en higiënepakkies in Caledon, Myddleton, Tesselaarsdal en Napier uitgedeel.

You need to be Logged In to leave a comment.