AVBOB reik uit na die Overberg ná oorstromings die gebied tref

Met die onlangse oorstromings het Suid-Afrikaners weer eens bewys dat ons ’n land is wat daarvan hou om die ekstra myl vir ander te loop – kospakkies is uitgedeel, mense het bymekaar gestaan en tydelike huisvesting is gereël.


Met die onlangse oorstromings het Suid-Afrikaners weer eens bewys dat ons ’n land is wat daarvan hou om die ekstra myl vir ander te loop – kospakkies is uitgedeel, mense het bymekaar gestaan en tydelike huisvesting is gereël.

Een maatskappy wat altyd vir die gemeenskap die hand diep in die sak steek, is AVBOB, en selfs die Hermanus-tak het alles in sy vermoë gedoen om die las van ander in die moeilike tye te verlig.

Volgens Theresa Maree van die Hermanus-tak het hulle besluit om ’n veldtog van stapel te stuur om mense in dié moeilike tye by te staan. “Toe ons die besluit geneem het, het alles behoorlik vlamgevat. Mense het uit hul pad gegaan om ons te help. Mad Foods in Hermanus het gewys wat samewerking behels, Sasko het gesorg vir vars brood en die burgemeesterskantoor het ook uit sy pad gegaan om ons te help. Dit was nou vir jou ’n suksesvolle veldtog wat weer bewys dat Hermanus-inwoners vir mekaar omgee,” het Theresa gesê. “Ons het net ’n week gehad om gesinne en organisasies te identifiseer wat by die skenkings gaan baat vind.”

Volgens haar het die raadslede hulle hiermee gehelp en ’n lys van hulpbehoewendes is in ’n japtrap aan hulle deurgegee. Wat haar ook opgeval het, is die feit dat die nood in die streek baie groot is. “Terwyl ons kospakkies aan die geïdentifiseerde gesinne uitgedeel het, is ons oorval deur mense wat ook wou hê. Ons kon ongelukkig nie almal help nie, maar ons beplan weer so ’n veldtog in die toekoms.”

Wat haar egter die meeste beïndruk het, is die feit dat hulle nie net vir 18 gesinne van Stanford, Zwelihle, Mount Pleasant en Hawston kospakkies kon gee nie, maar ook ’n pakkie wat bestaan het uit reukweerder, seep, tandeborsels, ontsmettingsmiddel, tandepasta en ’n waslap. “Verder het ons ook vyf sopkombuise gehelp en dubbelbeddekens (comforters) aan van die huisgesinne asook Hawston-hospies oorhandig,” vertel Theresa.

Theresa vertel verder dat AVBOB amper R250 000 beskikbaar gestel het om die las van die mense in Caledon, Bredasdorp, Hermanus, Somerset-Wes en Strand te verlig. “Net in Hermanus alleen het AVBOB R62 000 beskikbaar gestel om die inwoners te help.”

AVBOB is nie onbekend as dit kom by gemeenskapsprojekte nie en het al voorheen nie net boeke in Hermanus uitgedeel nie, maar ook mobiele biblioteke in Pearly Beach en Zwelihle opgerig. Verder is AVBOB ook die hoofborg van die Forum vir Gemeenskapsjoernalistiek se jaarlikse kompetisie, die hoofborg van verskeie sportgebeurtenisse, bevorder hy kulturele programme en is ook betrokke by ’n verskeidenheid opleidingsprogramme.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.