Die feestyd is verby en vir baie was die Kerstyd en ook Nuwejaar spesiaal toe hulle nuwe lewe verwelkom het.
Volgens Roché Butler, ’n woordvoerder van die gesondheidsdepartement in die Overberg-distrik, is drie babas op Kersdag in die Hermanus-hospitaal gebore – al drie meisies, waarvan die swaarste 3,79 kg en die ligste 2,9 kg was.
Drie meisies en ’n seun is op Nuwejaarsdag gebore. Die swaarste van hulle het 4,16 kg geweeg.
“Ons wens die ouers en families geluk met die nuwe toevoegings tot hul families en glo dié kinders gaan nog baie vreugde bring. Mag julle die tyd saam geniet en die reis saam met jul bondeltjies vreugdes aanpak,” het sy gesê.
Volgens haar is ’n baba se gesondheid die kwesbaarste in die eerste 1 000 dae. “Die tydperk van ’n kind se geboorte tot sy tweede verjaardag bied ’n unieke tydperk om jou kind se gesondheid in die toekoms te verseker. Maak seker jou kind word ingeënt en neem die raad wat jou gesondheidswerker oor jou baba het, ter harte. Maak ook seker dat jy tyd maak om gehaltetyd saam met jou baba deur te bring en onthou om na jouself ook te kyk,” sluit sy af.