Die Badisa-sentrum in Riviersonderend is daar vir almal.


As jy by die Badisa-sentrum in Riviersonderend instap, tref die woorde van Basie van Wyk, die uitvoerende hoof, jou.

Hy het gesê: “Ek het in ’n kort tydjie besef hoe die waardes wat my na Badisa gelok het, daar uitgeleef word. Badisa is inderdaad ’n organisasie wat daar is vir almal, maak nie saak wat jou ouderdom, geslag, ras of geloof is nie. Badisa is ’n organisasie wat hoop gee.”

By Badisa in Riviersonderend sit van die volwassenes knus besig om handwerk te doen, legkaarte te bou of net lees.

“Ons by die biblioteek bied ook gereeld aktiwiteite vir hulle aan en dis vir ons ’n plesier om saam met Badisa te werk,”

het ’n woordvoerder van die Riviersonderend-biblioteek gesê.

Daar is ongeveer 10 volwassenes wat elke dag by die Badisa-sentrum besig gehou word met aktiwiteite en ook voorsien word van etes. Met die musiek in die agtergrond kan ’n mens sien dat die personeel en die lede dit by die sentrum geniet.

Volgens ’n woordvoerder van Badisa het hulle altyd skenkings nodig en sal enigiets – van ou tydskrifte en legkaarte tot inkleurboeke en wol – van nut wees.

Hermanus Times, wat elke week in Riviersonderend versprei word, het ook besluit om by Badisa in dié mooi dorp betrokke te raak. “Ons verspreidingsgebied strek wyd en daar is baie plekke in die Overberg wat vergete is en wat hulp nodig het. Ons vra Hermanus Times-lesers om ou tydskrifte, legkaarte of inkleurboeke en inkleurpotlode vir die organisasie te skenk,” het Mariëtte Strydom, redakteur van Hermanus Times, gesê.

  • Die skenkings kan by die Hermanus Times-kantoor in die Birkenhead-gebou in Hermanus afgelaai word.

You need to be Logged In to leave a comment.