’n Bewaarder van die Helderstroom-gevangenis buite Caledon is in die hospitaal opgeneem nadat hy deur ’n gevangene aangeval en gesteek is.
Sers. Thembi Gweyi, ’n woordvoerder van die Caledon-polisie, het bevestig ’n klagte van poging tot moord in verband met dié voorval word ondersoek.
Volgens verslae was die bewaarder, wat as Joseph Cloete geïdentifiseer is, Maandag 29 Augustus met “ontbyt-parade” besig toe hy aangeval is.
“Volgens die slagoffer het hy die sel by B5 van Helderstroom se maksimum-afdeling oopgesluit, maar toe hy omdraai, het hy gevoel hoe iemand hom van agter af sny. Die sny strek van die voor- tot agterkant van sy kop,” het Gweyi verduidelik.
“Aangesien die vermeende aanvaller reeds in die gevangenis is, sal die departement van korrektiewe dienste die aangeleentheid verder hanteer.”
Die departement korrektiewe dienste het die voorval by die maksimum-afdeling van Helderstroom-gevangenis bevestig.
“Die beampte (57) het beserings aan sy gesig en kop opgedoen en is vir behandeling na ’n plaaslike hospitaal geneem,” lui ’n verklaring van die DKD.
Die departement het bevestig dat die betrokke gevangene ’n 35-jarige man is wat ’n lewenslange vonnis vir aanranding, roof en moord uitdien.
Die DKS het ’n interne ondersoek na die voorval van stapel gestuur en ’n formele strafregtelike klag is ook by die polisie aangemeld, aldus ’n woordvoerder.