’n Besoeker wat onlangs die Hermanus-begraafplaas besoek het, was geskok om te sien hoe haar ouers se graf gevandaliseer is.


Om ’n geliefde aan die dood af te staan, bly een van die moeilikste dinge om te verwerk, maar as die finale rusplek van daardie geliefde gevandaliseer word, krap dit ou wonde oop.

Dit is presies wat met inwoners van Namibië gebeur het toe hulle in Januarie hul ouers en broer se grafte in die Hermanus-begraafplaas besoek het.

Hermanus Times het ’n brief van ’n ontstoke leser gekry oor die stand van sake by die Hermanus-begraafplaas. “Ons ouers is in die Hermanus-begraafplaas begrawe en ons besoek een keer per jaar die grafte van ons ouers en broer,” het die leser geskryf.

Volgens hulle was hulle geskok toe hulle met hul besoek in Januarie gesien het in watter toestand hul ouers en broer se grafsteen was.

“Nie net was die grafsteen heeltemal gevandaliseer nie, maar ’n mens kon sien dat die metaalletters met die familiename, geboorte- en sterfdatums afgesteel is. Vir byna 40 jaar was die grafsteen ongeskonde – ons het selfs verbeteringe aangebring, en nou is dit heeltemal gevandaliseer,” lui die brief.

Volgens Hermanus Public Protection (HPP) weet hulle nie van so ’n voorval nie en gaan hulle dit met die betrokke partye opneem. “Die begraafplaas is die eiendom van die munisipaliteit, ons patrolleer wel die gebied rondom die begraafplaas en sal nou paraat wees vir enige voorvalle,” het Marcia Brown van HPP verduidelik.

Die Overstrand-munisipaliteit is ook genader vir kommentaar, maar geen antwoord is teen druktyd ontvang nie.

Die toestand by begraafplase is nie net iets wat Overstrand-inwoners onthuts laat nie, maar ook inwoners van die Theewaterskloof.

Volgens die TWK-munisipaliteit het hy werkspanne wat die begraafplase volgens ’n program skoon hou, maar ongelukkig het hy nie ’n begroting om die begraafplase voltyds vir 24 uur op te pas nie. “Vandalisme by parke en begraafplase bly ’n groot probleem en ons doen ’n beroep op gemeenskappe om saam te werk om hierdie plekke te beskerm. Mense kan vandalisme by 080 021 4730 aanmeld,” het ’n woordvoerder gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.