BALTIMORE, LIMPOPO – ‘n Bejaarde boer is ná ‘n aanval op sy plaas naby Baltimore in Limpopo oorlede, en sy vrou is ná die voorval in ‘n hospitaal in Lephalale (Ellisras) opgeneem.
Volgens ‘n verklaring van die polisie het die voorval Saterdag 29 November omstreeks 16:00 gebeur toe die 77-jarige At Mahne die plaashuis verlaat het om na sy beeste om te sien.
Twee mans het glo in dié tyd die plaashuis binnegekom en sy vrou, Pietro (74), oorrompel en vasgebind. Met Mahne se terugkeer na die huis het die twee verdagtes hom met messe gedreig en ook vasgebind. Hierna is hy ernstig aangerand.
Die twee mans het ‘n vuurwapen, selfone en ‘n onbekende bedrag geld in die huis gebuit, en daarna gevlug. Volgens die polisie kan nog meer gesteelde items waarskynlik met verdere ondersoek by die lys gevoeg word.
Mahne se vrou het daarin geslaag om die plaaswag vir hulp te ontbied. Die polisie sowel as naburige boere het met hul aankoms by die plaashuis die 77-jarige vasgebind en bewusteloos gevind. Die nooddienste het hom met hul aankoms op die toneel dood verklaar.
Die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, luitenant-generaal Thembi Hadebe, het opdrag gegee dat die polisie alle beskikbare hulpbronne moet gebruik om die verdagtes op te spoor.
‘Plaasaanvalle moet as prioriteitsmisdaad verklaar word’
In ‘n verklaring spreek die VF Plus diepe afgryse uit oor die wrede plaasaanval wat die Mahne-familie van Baltimore getref het.
“Wat vir die meeste Suid-Afrikaners ’n tyd van vreugde en dankbaarheid behoort te wees, het vir hierdie familie in ’n oogwink in ’n nagmerrie ontaard wat geen boer en sy gesin ooit behoort te beleef nie,” sê André Moss, VF Plus-LPW en provinsiale leier.
Moss sê die party veroordeel plaasaanvalle ten sterkste.
“Hierdie misdade is nie blote statistiek nie, maar ’n direkte aanval op die land se voedselprodusente en die veiligheid van landelike gemeenskappe. Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen totdat die regering plaasaanvalle as ’n prioriteitsmisdaad verklaar en daadwerklike optrede volg,” sê hy.
Marie Helm, DA-LPW en provinsiale woordvoerder vir Limpopo se departement van landbou en landelike ontwikkeling, sê landelike gemeenskappe lewe voortdurend in vrees. Die gebrek aan voldoende polisiëring in die landelike gebiede laat inwoners kwesbaar teenoor misdadigers wat in te veel gevalle ongestraf bly. Helm sê dit geld vir veiligheid van alle landelike gebiede en nie net op plase nie.
“As die DA het ons die minister van polisie al herhaaldelik versoek om plaasaanvalle en plaasmoorde tot prioriteitsmisdade te verklaar. Elke aanval ondermyn ons nasie se voedselsekerheid.”
Op die Facebook-blad Baltimore Advertising skryf Gloudie van Rensburg: ” ‘n Groot boom in ons gemeenskap het onnodig geval. Oom At Mahne jy was ‘n Legend. Oom en Oom se familie verdien dit nie. Niemand verdien dit nie.”
Enigiemand met inligting oor die verdagtes en die voorval kan speursersant Simon Ditle by 082 414 1882 bel, of die Stop Misdaadnommer 08600 10111 of van die MySAPS App gebruik maak. Inligting sal as vertroulik hanteer word.
Die ondersoek duur voort.
LEES OOK: Dui plaasmoorde en -aanvalle apart in polisie se misdaadstatistiek aan


