‘n Bejaarde vrou is aangeval en van haar selfoon beroof.


Buurtwagte en sekerheidsfirmas het nou saamgewerk om ’n man wat na bewering ’n bejaarde vrou aangeval en beroof het, vas te trek.

Die 67-jarige inwoner van Westcliff is verlede week beseer toe die verdagte haar aangeval en haar van haar foon beroof het. Volgens ’n inskrywing op Alfa AfriForum-buurtwag se Facebook-blad het dié voorval Saterdag 5 November omstreeks 13:18 gebeur. Lede van Hermanus-buurtwag sowel as Alfa AfriForum-buurtwag het op ’n boodskap van Hermanus Public Protection gereageer en was vinnig op die toneel. HPP, ADT en ander sekerheidsmaatskappye het ook by die toneel opgedaag.

“Alfa-buurtwag het ons AfriForum-berader ontbied om na die beseerde klaer om te sien. AfriForum-lede het bystand gelewer tot die beseerde na die hospitaal vervoer is,” lui die inskrywing. 

Omstanders het gehelp deur inligting rakende die verdagte aan die owerhede te gee.Die inligting is versprei en die verdagte is kort daarna deur die polisie met behulp van Alfa-buurtwaglede op die R43 naby Onrus aangekeer. 

Kaptein Fadila September, woordvoerder van die Hermanus-polisie, het bevestig dat ’n 19-jarige op aanklagte van roof en aanranding met die doel om ernstig te beseer in hegtenis geneem is. Die verdagte het Maandag 7 November in die Hermanus-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.