Die inwoners van Mollergrenpark is bekommerd oor die moontlike verkoop van die grond waarop hulle lewensreg het.


Is daar nie meer plek vir bejaardes in Hermanus nie? Is die mooi uitsig wat ’n mens oor Walkerbaai het net vir die ryk mense beskore wat in Hermanus woon?

Dit is die vrae wat menige inwoner vra nadat dit aan die lig gekom het dat die bekende Mollergrenpark in Kwaaiwater nou in die mark is vir R160 miljoen. Mollergren is op ongeveer 14 000 m² geleë met die mooiste uitsig oor Walkerbaai.

Die 30 bejaardes wat Mollergrenpark hul tuiste noem, leef nou in vrees dat hulle, net soos die Paradisepark-inwoners, moontlik van hul huise ontneem gaan word. Van hulle woon al die afgelope 20 jaar daar en het geen ander heenkome nie.

“Ons het alles verkoop om hier te kan woon, en dis nie asof ons gratis hier woon nie – ons betaal maandeliks ’n bedrag om hier te bly,” het een van die inwoners gesê. Volgens van die inwoners het hulle ook deur ’n keuringsproses gegaan om hier te kan woon. “Wanneer jy ’n inwoner van Mollergrenpark wil wees, moet jy nie net kan bewys dat jy gesond is nie, maar ook dat jy finansieel sterk genoeg is om hier te kan woon. Verder moet jy ook oorspronklik van Hermanus wees om hier te kan woon. Ons is 30 inwoners wat tans hier woon, van wie die oudste reeds in die negentig is.”

Die skoknuus wat die inwoners die afgelope tyd getref het, het volgens die inwoner ook ’n invloed op hul gesondheid. “Die onsekerheid speel ’n groot rol in ons fisieke sowel as ons geestesgesondheid,” sê hy. Volgens hom voel die inwoners nie net bedruk oor die nuwe verwikkelinge nie, maar skiet hul bloeddruk ook die hoogte in.

Volgens van die inwoners grief die manier hoe hierdie nuus aan hulle oorgedra is hulle die meeste. “Niemand het ons oor die verwikkelinge ingelig nie; ons het met ’n skok agtergekom dat die perseel in die mark is. Die manier hoe dit geadverteer is, is ook nie volgens ons op ’n eerbare manier gedoen nie. Die eiendomme op die perseel is uitgevee en die gebied sonder die behuising is op die advertensie,” vertel hy.

Die Hermanus-Rotariërs, wat in beheer staan van Mollergrenpark, sê die verkoop van die eiendom is onderhewig aan die verkryging van ander eiendom waar meer eenhede opgerig kan word om nog meer bejaardes te kan huisves. Die inwoners sal in soortgelyke eenhede kan woon. “Volgens gerugte is die enigste plek waar hulle ’n geskikte perseel kan vind om meer huise te kan bou, by Afdaksrivier. Dit is anderkant Fisherhaven. Ons is almal bejaarde mense wat in Hermanus wil woon, nie buite Hermanus nie. Ons het lewenslange verblyfreg by Mollergrenpark, nie by ’n ander plek nie,” kla hulle.

Die Rotariërs is weer van mening dat die verkoop van die perseel gedryf is deur die feit dat die vraag na behuising vir bejaardes baie hoër is as wat tans beskikbaar is. Die bestuur van Mollergren Home NPC het glo ’n visie om hierdie tekort aan behuising die hoof te bied deur die oorspronklike perseel te verkoop en dan kan hulle meer huise vir meer inwoners bou.

“Die Rotariërs se visie is om soveel bekostigbare behuising moontlik vir bejaardes te skep. Ons verseker ook dat al die inkomste uit die verkoop van die grond weer belê gaan word om na die bestaande en toekomstige inwoners te kan omsien.”

Met Hermanus Times se besoek aan Mollergrenpark het van die oudste inwoners vertel die verkoop van die grond kom ook al ’n paar jaar saam met hulle. “Dit is nie die eerste gerugte dat die grond verkoop gaan word nie. Dit was nou al twee keer ‘in die mark’, maar niks het daarvan gekom nie. Ek het ’n lewenslange huurkontrak hier en sal nie weggaan nie,” het een van die inwoners vertel. “Vir ons gaan dit oor ons Mollergren-erfenis – ons bly veg vir dit wat mnr. Mollergren vir Hermanus agtergelaat het.. In ’n artikel wat op die webwerf Everythingproperty verskyn het, word Mollergrenpark as volg beskryf: An unprecedented opportunity to acquire an oceanfront parcel of land in Hermanus has come about with the sale of 14 198 m² at Mollergren Park. The property is perched on the cliffs of Kwaaiwater, which overlooks Walker Bay. Paul Kruger, licensee for Seeff Hermanus, says the property is on the market for R160 million, contingent upon successfully relocating the current approximately 30 occupants and securing suitable new land for development. The vast size and clifftop location is incredibly rare. Kruger says it is exceedingly difficult to find such a large oceanfront residential estate, making this an exceptional property, and one of the most remarkable offerings in the history of Hermanus. The likelihood of such an opportunity arising again is slim, he adds.

Mollergren Park is close to all of the world-class amenities that Hermanus has to offer – from whale watching to wine tasting, and kayaking to mountain biking. The possibilities here are endless, making it a rare and enticing canvas for visionary developers, he says.

You need to be Logged In to leave a comment.