Lede van die Oase Dienssentrum en personeel van die Caledon voor die huismuseumFoto’s: Mitzi Buys


Groot opgewondenheid het onder 30 lede van Oase Dienssentrum geheers toe hulle die Caledon-museum onlangs besoek het.

Ná ’n koppie koffie of tee met hul aankoms is die gaste deur die huismuseum geneem om te sien hoe mense in die ou dae gewoon het. Talle uitroepe van verbasing het opgeklink toe verskeie huisraadartikels uit hul kinderdae herken is.

Die saamgestelde uitstalling van swart-en-wit-foto’s van ou Caledon-inwoners wat in die ou Vrymesselaarslosie te sien is, het gewis die meeste aandag geniet. Hier het baie mense foto’s van hul familielede en vriende gesien en elke foto is noukeurig bestudeer.

Die gaste het ook rustig deur verskeie albums met ou foto’s geblaai.

Een van die foto’s wat baie aandag getrek het, is dié van die Oase-lid Caroline Hendricks, gebore Habelgaarn, waar sy as jong meisie ’n strooimeisie by ’n troue was.

Vir die meeste lede was dit hulle eerste besoek aan die museum. Almal het genoem dat hulle dit geweldig interessant gevind het en gewis weer ’n keer besoek wil kom aflê – dié keer saam met hul families.

Marlon Sauls van die museum noem aan Hermanus Times dat die besoek van die Oase-lede vir hom baie spesiaal was.

Nie net was dit vir hom verblydend om die gaste se opgewondenheid te sien nie, maar hy het ook heelwat inligting by van die gaste gekry.

Sommige van die naambordjies by die foto’s het met die verloop van tyd verlore of onleesbaar geraak en hy kon heelwat van die nodige inligting by die gaste kry.

Die besoek is afgesluit met verversings op die stoep van die huismuseum.

You need to be Logged In to leave a comment.