Die HEIN-stigting en Kaapse Forum het saamgespan om ’n Jeugdag-motiveringsgesprek met leerders van vyf Overbergse skole te hou.
’n Groep leerders van Swartberg Primêr, Swartberg Sekondêr, die Hoërskool Emil Weder, Boontjieskraal Primêr en Berea Primêr is Saterdag 15 Junie genooi om na verskeie motiveringsprekers in die Swartberg Primêr-skoolsaal te luister.
Zane Meas, wat veral bekend is vir sy rol as Neville Meintjies in 7de Laan, was die hoofspreker en Heindrich Wyngaard, Duncan (Donuts) Plaatjies, pastoor Morgan Sambaba en Lynden Jafta het ook die leerders in hul toesprake gemotiveer en aangemoedig.
Hermanus Times het Wyngaard gevra oor die betrokkenheid van Meas, die Kaapse Forum en die HEIN-stigting by hierdie Jeugdag-geleentheid. “Die Kaapse Forum is deur Sambaba Family Ministries genader om te help dat Meas en sy Fatherhood Foundation Mamre en Atlantis kan besoek. Ons het toe versoek dat die besoek dan ook na die Overberg uitgebrei word, en dit is hoe dit gebeur het dat Meas op 14 Junie die Caledon-rugbyklub kom motiveer het en ook saam met die HEIN-stigting leerders van die kontrei op die 15de kom toespreek het om die belangrikheid van die jeug se betrokkenheid in gemeenskappe te beklemtoon.”
Die HEIN-stigting is ’n inisiatief van Heindrich Wyngaard, ’n bekende Caledonse mediapersoonlikheid. Die naam verwys na herkoms, entrepreneurskap, idees vir vernuwing en netwerkskepping. Dit is ’n maatskappy sonder winsbejag wat op gemeenskapsontwikkeling en opleiding fokus.
Wyngaard verduidelik hoekom dié geleentheid by Swartberg Primêr gehou is. “Swartberg Primêr is die plek waar ek leer lees en skryf het.
“Dit is waar alles opvoedkundig vir my begin het. Ek wou as stigter van die HEIN-stigting ’n eerste geleentheid hou by ’n skool wat vir my soveel beteken. Ons wou ook nie hê dat dit net die voorspelbare Jeugdagbyeen-koms moet wees nie. Ons wou deur God se woord (past. Morgan Sambaba), persoonlike vertellings (die jong entrepreneur Duncan Plaatjies en myself) en die belangrikheid van die bevordering van vaderskap (Zane Meas) as grondlegger vir ’n leefwyse bevorder en by die leerders tuisbring. Ons was bevoorreg om dit te kon regkry,” sê Wyngaard.
Meas is die hoof van die Fatherhood Foundation van Suid-Afrika. Hy het aan die leerders vertel dat sy beroep dié van akteur is, maar gesê dit is sy roeping om ’n bietjie van die hemel aarde toe te bring. Meas het ook genoem dat so baie mure van die familiestruktuur gebroke is en die belangrikheid van onderwysers beklemtoon. Aan die jeug het hy gesê: “Julle is geroep om uit te staan. Julle is belangrik vir die toekoms.”
Ná die toesprake is bome in die tuin van die skool geplant. “Dit is ’n weerspieëling van ons verbintenis tot die vergroening van ons gemeenskappe en groter volhoubaarheid vir die toekoms,” sê Wyngaard.