Elizma Fourie, bekende sakevrou en fotograaf van Hermanus, is op 4 November ná ’n kort siekte oorlede.
Fourie, gebore Thiart, is in die Paarl gebore en getoë en het aan die Hoërskool Gimnasium Paarl gematrikuleer. Fourie en haar man, Gerhard, het 28 jaar in Upington gewoon voordat hulle agt jaar gelede na Hermanus verhuis het.
Fourie het ’n in- en uitvoeronderneming bedryf en was direkteur van verskeie ander maatskappye, en het die laaste jare haar Upington-gebaseerde onderneming uit Hermanus bestuur.
Fotografie was een van haar groot liefdes. Sy het aan verskeie fotografieklubs behoort en was veral aktief betrokke by die Hermanus Photographic Society, waar sy van 2019 tot 2021 die president was. In dié vereniging se jongste nuusbrief, Snapshot, skryf Charles Naudé in ’n huldeblyk aan Fourie dat sy onthou sal word as een van die klub se topfotograwe en vir haar bydraes gedurende haar termyn as president. Sy was ook betrokke by die reëlings vir die PSSA se onlangse kongres in Greyton.
Die Kgalagadi-oorgangspark was een van Fourie se gunsteling-foto-bestemmings, maar sy het ook graag makro-foto’s geneem.
Haar suster, Antoinette du Toit, sê: “Ek het dikwels saam met haar gegaan wanneer sy foto’s neem – of dit nou in die Kgalagadi was, of in haar tuisdorp, Hermanus, was dit altyd ’n belewenis om haar dop te hou wanneer sy foto’s neem. Sy het baie geduld gehad om te wag om net daardie perfekte foto te kry. Sy was ’n baie reguit mens, maar ook ’n omgee-mens met ’n groot hart vir diere. Sy het verskeie diere by diereskuilings aangeneem.”
Fourie word oorleef deur haar man, met wie sy op 8 November 40 jaar getroud sou wees, hul seun Gerhard jr. en sy vrou, Melissa, en haar suster. Fourie se troosdiens is op 12 November by die Ou Apostoliese Kerk in Hermanus gehou.
24 Februarie 1964 – 4 November 2022