Willem Jantjies was jare lank ’n bekende gesig in Hermanus se strate.

Willem was deel van ’n groep haweloses wat ’n bekende gesig in die middedorp was.

Sy moeilike lewe op straat het sy tol geëis en Willem, wat in Oktober sy 60ste verjaardag sou vier, is aan die begin van die jaar in die Hermanus-hospitaal opgeneem.

Hy is op 3 Januarie oorlede.

Willem, wat oorspronklik van Mosselbaai was, was jare lank een van Hermanus Times se top-straatverkopers. Hy het dié werk met groot trots gedoen totdat die koerant gratis geword en nie meer van straatverkopers gebruik gemaak het nie.

Olivia Dickson van Hermanus Times beskryf Willem as ’n baie vriendelike mens wat altyd grappies gemaak het.

Volgens Elizma Grobbelaar van Revival Town Hermanus het sy Willem twee jaar gelede ontmoet toe sy vir die haweloses begin kos uitdeel het.

“Hy was altyd baie dankbaar oor alles. Hy was ’n omgeemens en was verstommend wys. Dit was asof hy die hoofseun van die haweloses was,” vertel sy.

Revival Town Hermanus het met die hulp van plaaslike sakeondernemings ’n begrafnisdiens vir Willem gehou.

Dié diens is bygewoon deur vriende en twee van sy familielede wat van Mosselbaai af gereis het.

“Hy was nie net my geliefde oom nie; hy was geliefd in die hele Hermanus,” sê Grobbelaar.

You need to be Logged In to leave a comment.