Bekende in VLV, koskringe op 90 dood

’n Bekende en geliefde inwoner van Caledon, tannie Christie Groenewald, is op 7 April oorlede – skaars ses weke nadat sy op 25 Februarie haar 90ste verjaarsdag op luisterryke wyse met familie en vriende gevier het.


’n Bekende en geliefde inwoner van Caledon, tannie Christie Groenewald, is op 7 April oorlede – skaars ses weke nadat sy op 25 Februarie haar 90ste verjaarsdag op luisterryke wyse met familie en vriende gevier het.

Tannie Christie is as een van 12 kinders op die plaas Kleinsoutvier in die Napier-distrik gebore, waar sy in die plaasskool was voordat sy na Hoërskool Napier is. Sy is in 1950 met Sassie Groenewald, ’n boer van Jongensklip, Caledon, getroud. Hy is in 1995 oorlede. Die Groenewalds het ná jare van saaiboerdery ’n plaas in die Somerset-Oos-distrik gekoop, waar hulle met angorabokke en beeste geboer het. Hulle het die plaas later verkoop en in hul strandhuis in Kleinbaai afgetree, maar was steeds in die gemeenskap aktief.

Tannie Chrissie se hande het vir niks verkeerd gestaan nie, maar haar groot liefde was kook. Om die spyseniering vir 300 mense by ’n onthaal te doen, was vir haar kinderspeletjies. Haar liefde vir onthaal op groot skaal het daartoe gelei dat sy ’n kookboek met grootmaatresepte in 1987 bekendgestel het. Dié boek, wat nou reeds in sy vyfde druk is, was gewis een van die hoogtepunte in haar lewe. Sy word ook in die bekende kosskrywer Dine van Zyl se Boerekos-resepteboek genoem en het ook in haar televisieprogram verskyn.

Tannie Christie was ook baie nou betrokke by die Caledon-veldblommeskou sowel as dié van Gansbaai. As VLV-lid was sy baie bedrywig – ook as beoordelaar van produkte. Huldeblyke van VLV-lede het van oral ingestroom:

“Sy het my so baie geleer en altyd haar resepte met my gedeel. Sy was my mentor in alle opsigte.” (Rienie)

“Altyd sulke goeie raad met maandelikse kompetisie-beoordeling gegee.” (Adri Ehlers)

“Tannie Christie was my VLV-ma. Alles wat ek van spyseniering af weet, het ek by haar geleer.” (Annatjie Liebenberg).

Haar dogter, Sanet Erasmus, wat in Caledon woon en haar ma se kook-en-baktalent geërf het, sê: “Sy was ’n nederige en omgeemens met geweldige deernis vir almal. Sy was altyd bereid om te help, hetsy met haar kennis of fisiek. Haar woord was haar woord en sy het altyd gesê as jy belowe het om iets te doen, dan draai jy nie om nie; ook dat ’n mens nederig moet wees sonder dat iemand oor jou loop. Ek gaan haar geweldig baie mis, maar gun haar die rus.”

Haar seun, Barendes Groenewald, van Caledon sê: “As kinders was my ma en haar broers en susters bekend as ‘Die rosies van Kleinsoutrivier’. My ma was ’n reguitmens wat geweet het wat sy wou doen. Sy was uit en uit ’n gemeenskapsmens wat betrokke was by verskeie organisasies. Sy was diep gelowig en het gereeld haar stiltetyd gehou en sy en my pa het ook die kerkraad gedien.”

Tannie Christie het die afgelope drie jaar in die Heidehof-tehuis vir bejaardes in Caledon gewoon. Volgens haar seun het sy ’n lewendige belangstelling in sport gehad. “Sy het altyd die koerant van agter af gelees – eers die sport – en daarna het sy die blokraaisel gedoen. Ons kon altyd ná rugby- of krieketwedstryde ’n ingeligte gesprek oor die wedstryd voer. Sy het elke speler se naam geken. Sy was baie lief vir blokraaisels en selfs wanneer sy gereis het, het sy haar blokraaiselwoordeboeke saamgeneem.”

Tannie Christie word oorleef deur haar suster Vienie du Toit (95), haar seun (Barendes Groenewald), dogter (Sanet Erasmus), drie kleinkinders en vier agterkleinkinders.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.