Die bekende oudonderwyser TC Fortuin is Woensdag 5 Februarie in die ouderdom van 71 jaar oorlede.
Terrance Carltan Fortuin, alombekend as TC, is op 27 September 1953 in Caledon gebore, waar hy sy skooljare aan Swartberg Primêr en Swartberg Sekondêr deurgebring het. Na afloop van sy skoolloopbaan het hy hom as onderwyser aan die Onderwyskollege-Suid-Kaap (OKSK) in Oudtshoorn bekwaam.
Buiten een jaar as onderwyser in Montague was TC vir 36 jaar – sy hele loopbaan – as onderwyser aan Swartberg Primêr verbonde, waar hy wiskunde en wetenskap as hoofvakke onderrig het en later ook departementshoof was.
TC het sy vrou, Lesie, wat ’n kranige atleet was, op ’n atletiektoer ontmoet en hulle is op 19 September 1981 in Worcester, Lesi se tuisdorp, in die eg verbind.
Hoewel TC nie self ’n atleet was nie, was hy baie betrokke by atletiek en het in verskeie atletiekkomitees gedien. Hy het in die nasionale beamptes-komitee as hooftydhouer gedien en het beamptes landwyd opgelei.
Sy dogter Thelitia Fortuin sê: “My pa was baie liefdevol en ek kon altyd openlik met hom praat. Wanneer iemand my te na gekom het, het hy altyd gesê ek moenie dat só iemand op my hart [trap] nie. Ek moet vergeet en vergewe en [hom of haar] altyd groet. Al groet [hulle] nie terug nie, groet net weer. Dit was vir hom baie belangrik. Hy het ook altyd ’n ding uitgepraat.
“My pa was ’n pen-en-papier-mens. Hy was ’n gemeenskapsmens wat nou betrokke was by welsynorganisasies, waar hy hul finansies behartig het. Hy was ook vir jare by die Caledon-rugbyklub betrokke,” sê Thelitia. “Hy het ’n goeie sin vir humor gehad. Soms het hy maar ’n flou grappie vertel en dan breek hy homself daaroor.”
TC se vrou, Lesie, vertel: “Hy het die leerders in sy klas soos sy eie kinders in die huis behandel en almal so hanteer. Hy was baie tegemoetkomend. Hy was ’n onderwyser en hy was ook ’n pa vir al sy leerders. Hy was ’n nederige mens. Dit wat hy gedoen het, het hy na die beste van sy vermoë gedoen. Hy het alles gegee – in sy skoolwerk asook in sy atletiek. Hy was die gom wat ons hele familie bymekaargehou het.”
Keith Hendricks, oudskoolhoof van Swartberg Primêr en jare lange kollega van TC, het in sy huldeblyk tydens TC se begrafnisdiens, wat Saterdag 15 Febraurie in die Holy Trinity Anglikaanse kerk plaasgevind het, gesê: “TC as mens het saggeaard voorgekom, maar hy kon by tye ’n regte korrelkop wees. Wanneer hy ’n taak aangepak het, het hy dit voltooi en sy beste gegee. Sy vermoë om ’n atletiekbyeenkoms te reël, was van onskatbare waarde. Saam het ons ook vir etlike jare die Caledon-Genadendal-marathon gereël.”
Die Swartberg Primêr-onderwyser Malinda Booysen sê: “Mnr. Fortuin was ’n opvoeder terwyl ek ’n leerder by Swartberg Primêr was. Hy was my verspring-afrigter en danksy hom het ek tot by Suid-Boland gevorder. Ek het in Julie 1992 as onderwyser by Swartberg Primêr aangesluit en vir 22 jaar was TC en ek kollegas tot sy uitdienstrede in 2014.
“Saam het ons atletiekbyeenkomste bygewoon en TC het atletiekklinieke gereël. Hy het my aangemoedig om saam met hom as beampte by Suid-Boland, Boland en selfs by die SA kampioenskap op te tree. Onder sy leiding het ek ook baie geleer terwyl ek tesourier van die Boland-skole se vlugbal was. Hy het my geleer hoe om noukeurig van elke sent rekenskap te gee,” noem Booysen.
“Vir jare het ek en my man, Nelson, en TC en Lesie elke oggend vyfuur van Bergsig af deur die dorp en weer terug gestap, want ons moes nog regmaak om betyds by die skool te wees,” sê Booysen.
“Ja, TC, my kollega, vriend en mentor – ek het soveel mooi herinneringe om te koester en ek kon nie vir beter gevra het nie. Ek mis jou, maar gun jou die ewige rus,” noem Booysen.
TC het ’n besonderse liefde vir sy oudkollege gehad en het gereeld reünies bygewoon. Hy het juis uitgesien na hierdie jaar se reünie wat hy wou bywoon, maar ongelukkig was dit hom nie beskore nie.
TC was kapèlvoog van die Holy Trinity-kerk en het tot Desember 2024 na hul geldsake omgesien.
TC word oorleef deur sy vrou, Lesie, dogters Thelitia Fortuin en Shantley Joorst, skoonseun Burton Joorst, twee kleinkinders en broer, Wilfred Fortuin.