Hoe voel jy dat jou boek Marilyn onder Exclusive Books se top-20-verkopers vir 2021 is? Verras en oneindig dankbaar. Dis waarlik ’n voorreg om ‘n mens se boek tussen soveel bekende en befaamde name te sien en boonop op so ‘n eksklusiewe lys.
Watter boek skryf jy tans aan? Met die storie waaraan ek tans skryf, breek ek bietjie weg van die vroue van Vywerbaai. Ek wil nog nie die titel verklap nie, maar dis ‘n spanningsroman met ’n historiese kinkel. In 1871 pleeg Bert Brewis in ’n woedebui moord op sy plaas, Verlatenfontein, in die Strandveld. Die gevolge daarvan strek wyd. En kring selfs uit tot gebeure 150 jaar later. In 2021 vlug Georgie Rabie na haar peetma se kothuis op Verlatenfontein nadat sy haar die argwaan van twitteraars op hals gehaal het. Daar kom sy vir Ras Erasmus teen terwyl hy ’n kwotasie moet gee vir die restourasie van die manjifieke opstal. ? Opstal wat onlangs vir die vierde keer halfpad afgebrand het – telkens op ’n betekenisvolle datum. Oënskynlik in die hoop om die siklus te verbreek, nooi Natie Bodenstein, die eienaar van die plaas, ’n vrou daarheen wat reken sy kan die geeste tot ruste bring. Intussen is die eertydse aktrise wat huurpag by sy pa gekry het op die mooiste deel van die plaas – Georgie se peettante – ’n doring in Natie se vlees.
Vertel ons van jou afsondering, waar het jy geskryf en waarom skryf jy soms op verskillende plekke aan jou boeke? Sedert die grendeltyd sukkel ek om te skryf. Dit het daartoe gelei dat ek so teen Oktober laas jaar besef het ek gaan nou werklik skouer aan die wiel moet sit as ek my sperdatum selfs naastenby wil haal. Vandaar die desperate poging om my af te sonder en net te skryf – sonder internet of ander dinge wat my konsentrasie onderbreek. Dis nie die eerste keer dat ek weggaan om te skryf nie. Dis asof ek net heeltemal in my storie inkom wanneer ek weg is uit my eie omgewing. Selfs weg van my eie skryfhuisie waar ek nou eintlik sedert die grendeltyd min of meer permanent woon. Dié keer het ek in die Klein Karoo beland op die wonderskone plaas Die Poort, naby Calitzdorp. Daar is ’n opstal waar my sielsvriende, Jan van Tonder en Jenny Pieterse, tydelik bly asook drie kothuise wat uitverhuur word. Ek het in Fig Tree Cottage gebly, die kleinste, maar knusste van die drie. Die uitsig is wonderbaarlik met die berge wat oor ’n mens troon en die Gamkarivier wat aan die voet daarvan verby vloei. Reg voor die huisie kabbel water in ’n stroompie na die volgende plaas toe en dis asof daar net drie keer soveel suurstof is as elders. Dis die ideale plek om te gaan skryf. Ek het in net minder as ?’n maand verder met my manuskrip gevorder as in die hele jaar.
Hoe (en waar) kry jy inspirasie as jy skryf? Daar is prikkels en daar is inspirasie. Die prikkel vir my storie lê in die geskiedenis van die Strandveld. Daar was inderdaad in 1871 ’n boer uit ‘n baie vooraanstaande familie wat sy vrou uit jaloesie geskiet het. Ek het die stories rondom hierdie moord bestudeer en toe my eie storie daaruit begin fabriseer. My verhaal is dus suiwer fiksie, gebore uit ’n flentertjie waarheid. Inspirasie kom egter al skrywende. Iemand het op ’n kol iets gesê soos: Ek skryf net as ek geïnspireerd is en ek sorg dat ek elke oggend om 09:00 geïnspireer is. Inspirasie gebeur wanneer jy gaan sit en begin skryf. Iets wat soms streng selfdissipline verg. Dis asof ’n storie ?dinamika en momentum van sy eie kry en dis wat ek inspirasie noem.
Wat is vir jou die grootste uitdaging as dit kom by skryf? Op praktiese vlak, om nie op die internet te lê en in my navorsing te verdwaal nie. Wat die storie self betref, lê een van die grootste uitdagings vir my daarin om die laaste derde van die manuskrip te voltooi. Daar waar al die drade op geloofwaardige wyse bymekaar getrek moet word. ’n Persoonlike uitdaging lê daarin dat ek aanhou skryf, selfs op dae wat ek dink die storie is ’n totale misoes en ek het verleer om te skryf.
Hoe kry jy dit reg om jou karakters so goed te beskryf in jou boeke? Waar karakters vandaan kom, is vir my ’n misterie. Ek het al opgehou om te probeer agterkom waar hierdie wesens uitbroei. Al wat ek kan doen, is om hulle so goed as moontlik te leer ken terwyl ek skryf. Die heeltyd vrae oor (en soms vir) hulle te vra. Waarom doen hierdie een dit, waarom daardie een dat. Waar kom hy/sy vandaan? Uit watse soort huis en agtergrond? Ek dink egter die geheim lê daarin om nie óór karakters te skryf nie, maar om hulle te wórd terwyl mens skryf. Vir my kom dit half natuurlik.
Is daar soms goeters uit jou karakters se lewens wat in jou eie lewe ook plaasgevind het? ’n Mens put altyd uit jou eie lewe, en ja, daar is dinge in Marilyn byvoorbeeld wat gegrond is op my eie ervarings, maar dit word in die storie heeltemal gefiksionaliseer. Dit wissel van boek tot boek. In my nuwe storie is daar nou weer bitter min ooreenkomste met my eie lewe.
Lees jy ander skrywers se boeke en het jy al iets geleer by ’n ander skrywer? Ek lees al van kindsbeen af geweldig baie. Dis die beste leerskool vir ’n skrywer. Dus ja, met feitlik elke boek ek lees, leer ek iets. Die kruis van die skrywer is egter dat ’n mens begin anders lees as jy eers self begin skryf. ’n Mens lees meer krities en dit verminder soms die plesier daarvan ietwat.
Jou boek Marilyn, hoe verkoop dit en wat dink die lesers daarvan? Ek beskik nie oor syfers nie, maar dit klink vir my sy verkoop baie goed vir ’n Afrikaanse boek. Uit kommentaar op Facebook en in e-posbriewe en privaat boodskappe wat ek kry, lyk dit my dis my lesers se gunsteling van die vier boeke wat gaan oor Vywerbaai. Ek kry regtig wonderlike terugvoer oor Marilyn en is innig dankbaar daarvoor. Dis ‘n boek wat vir my moeilik gekom het.
Het jy enige wenke vir jong skrywers? Lees, lees, lees. En lees wyd – soveel as moontlik genres. Kies egter die genre wat jy die meeste geniet om te lees as die genre waarin jy begin skryf. En nog ’n wenk, moenie wag vir die regte oomblik, oftewel vir inspirasie nie. Gaan sit net en begin skryf. As jy vashaak, vertrou jou karakters eerder as jou storie en hou net aan.