Bekende skrywer vlug weg van sein

Chanette Paul, die bekende skrywer van Stanford, vertel aan Rick Marais van Hermanus Times waarom sy in afsondering in die Klein Karoo aan haar nuwe boek geskryf het.


Hoe voel jy dat jou boek Marilynonder Exclusive Books se top-20-verkopers vir 2021 is? Verras en dankbaar. Dis waarlik ’n voorreg om ?’n mens se boek tussen soveel bekende en befaamde name te sien.

Aan watter boek skryf jy nou? Met die storie waaraan ek tans skryf, breek ek ’n bietjie weg van die vroue van Vywerbaai. Ek wil nog nie die titel verklap nie, maar dis ’n spannings­roman met ’n historiese kinkel.

Vertel ons meer van jou nuwe boek? Bert Brewis pleeg in 1871 in ’n woedebui moord op sy plaas Verlaten­fontein in die Strandveld. Die gevolge daarvan strek wyd en kring selfs uit tot gebeure 150 jaar later. In 2021 vlug Georgie Rabie na haar peetma se kothuis op Verlaten­fontein nadat sy haar die argwaan van twitteraars op die hals gehaal het. Daar kom sy Ras Erasmus teë terwyl hy ’n kosteberaming doen vir die restourasie van die manjifieke opstal – ’n opstal wat onlangs die vierde keer halfpad afgebrand het; telkens op ’n betekenisvolle datum. Oënskynlik in die hoop om die siklus te verbreek, nooi Natie Bodenstein, die eienaar van die plaas, ’n vrou daarheen wat reken sy kan die geeste tot ruste bring. Intussen is die eertydse aktrise – Georgie se peettante – wat huurpag op die mooiste deel van die plaas by sy pa gekry het, ’n? doring in Natie se vlees.

Vertel ons van jou afsondering. Waar het jy geskryf? Ek sukkel sedert die grendeltyd om te skryf. Dit het daartoe gelei dat ek so teen Oktober verlede jaar besef het ek gaan nou werklik skouer aan die wiel moet sit as ek my sperdatum selfs naastenby wil haal – vandaar die desperate poging om my af te sonder en net te skryf; sonder internet of ander dinge wat my konsentrasie onderbreek. Dis nie die eerste keer dat ek weggaan om te skryf nie. Dis asof ek net heeltemal in my storie inkom wanneer ek weg uit my eie omgewing is; selfs weg van my eie skryfhuisie waar ek nou eintlik sedert die grendeltyd min of meer permanent woon. Dié keer het ek in die Klein Karoo beland op die wonderskone plaas Die Poort, naby Calitzdorp. Daar is ’n opstal waar my sielsvriende, Jan van Tonder en Jenny Pieterse, tydelik woon, asook drie kothuise wat verhuur word. Ek het in Fig Tree Cottage gebly. Die uitsig is wonderbaarlik met die berge wat oor ’n mens troon en die Gamkarivier aan die voet daarvan.

Hoe (en waar) kry jy inspirasie as jy skryf? Ek gebruik prikkels en ek kry inspirasie. Die prikkel vir my storie lê in die geskiedenis van die Strandveld. ’n Boer uit ’n? baie vooraanstaande familie het inderdaad in 1871 sy vrou weens jaloesie geskiet. Ek het die stories oor die moord bestudeer en toe my eie storie begin fabriseer. My verhaal is dus suiwer fiksie; gebore uit ’n flentertjie waarheid. Inspirasie kom egter al skrywende. Iemand het op ’n kol iets gesê soos: Ek skryf net as ek geïnspireerd is en ek sorg dat ek elke oggend om 09:00 geïnspireer is. Inspirasie gebeur wanneer jy gaan sit en begin skryf – iets wat soms streng selfdissipline verg. Dis asof ’n storie ?dinamika en momentum van sy eie kry. 

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.