’n Bekende van die Strand, Clive (Ysters) Williams, was die afgelope feestyd ’n slagoffer van ’n verdrinking nadat die klein bootjie waarop hy was, by Maasbaai naby Hangklip omgeslaan het.
Michael Markinova, die bestuurder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Kleinmond, het gesê hulle en die NSRI van Gordonsbaai het Maandagoggend (2 Januarie) op inligting van Cape Nature en wetstoepassingsbeamptes gereageer oor ’n klein bootjie wat omgeslaan het. Een insittende van die boot het daarin geslaag om aan wal te kom, maar Williams was weg.
Markinova het gesê verskeie reddingsbote van Kleinmond en Gordonsbaai is na die toneel gestuur en het die gebied vir ’n moontlike oorlewende gefynkam. ’n EMS-Skymed-reddingshelikopter is op bystand geplaas, en die oorlewende is deur EMS se paramedici behandel.
Met hul aankoms by die omgeslaande bootjie was daar geen teken van enigiemand nie en ’n see- en kuslynsoektog is begin.
Die liggaam van Williams is naby die kus tussen rotse gevind en aan wal gebring.