Mense kla dikwels op Caledon se sosialemedia­bladsye dat hulle nie die polisiekantoor telefonies kan bereik nie. Hermanus Times het met AO Eduard Coetzee, sektorbestuurder vir Caledon, hieroor en oor ander veiligheidskwessies gesels.

“Ek is bewus daarvan dat baie mense hieroor kla, maar ons telefoonstelsel werk met krag, en as die krag gedurende beurtkrag af is, kan jy nie deurkom na die skakelbord nie” sê Coetzee.

Mense kan wel die selnr. 082 522 1736 skakel.

Coetzee sê ook die polisie in die Overberg vra mense om versigtig te wees met internetaankope, veral wanneer hulle gevra word om ’n deposito te betaal.

“Ons kry geweldig baie sake van mense wat só ge-scam word. Nadat die deposito betaal is, verdwyn die verkoper en die selfoon is afgeskakel. Mense is ook nalatig met selfone en bankkaarte. Wees versigtig by OTM’s – veral senior burgers moet nie alleen na OTM’s gaan nie. Vir jou eie veiligheid, trek liewer geld by winkels wat die diens aanbied,” maan Coetzee.

Volgens Coetzee is ’n ander probleem ook dié van jong mense wat laat saans in die donker rondloop en dan dikwels van hul selfone en geld beroof word. “Vermy donker strate. Mense moet besef Caledon is nie meer die plaasdorp waar hulle grootgeword het nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.