Die Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK) is besig om korte mette te maak met misdadigers en vandale wat daarop uit is om die infrastruktuur te beskadig.

Volgens die mediawoordvoerder van die TWK is ’n beloning van R5 000 uitgeloof as enigiemand inligting kan gee wat kan lei tot die inhegtenisneming van die skuldiges wat skade aan die infrastruktuur van munisipale geboue aanrig.

Die beloning volg nadat al meer munisipale geboue in die TWK-munisipale gebied die afgelope week deur inbrekers, diewe en vandale beskadig is.

“Ons wil graag die polisiebeamptes, verkeersowerhede en ander belanghebbende partye bedank wat bygedra het tot die inhegtenisneming van verdagtes die afgelope tyd,” het die woordvoerder gesê.

Die volgende suksesse is aangemeld:

  • Koperdiefstal by die Caledon-rioolplaas: Die Caledon-rioolplaas is onlangs deur koperdiewe geteiken. Tussen 15 en 17 Februarie is R1 miljoen se koper op die rioolplaas gesteel. ’n Man is in hegtenis geneem en het op 23 Februarie in die landdroshof verskyn. Hy bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning op 22 Maart. 
  • Diefstal by Caledon se munisipale hoofkantoor: Verlede naweek is toerusting by die Caledon- munisipale kantoor gesteel. Danksy die vinnige optrede deur die Caledon-polisie is drie verdagtes in hegtenis geneem en van die gesteelde goedere is teruggekry. Hulle het Maandag in die hof verskyn. Skakel 080 021 4730 om voorvalle aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.