Skok, ongeloof, trane en onbeskryflike hartseer het geheers ná die nuus van Danté Abrahams, ‘n belowende jong BMX-kampioen, se skielike en tragiese dood nadat hy oor die Paasnaweek in ‘n motorongeluk betrokke was.
Uit huldeblyke wat ingestroom het, is dit duidelik dat die 15-jarige nie net sy stempel op die BMX-baan sowel as die rugbyveld en atletiekbaan afgedruk het nie, maar ook op die lewe van talle mense met wie hy in aanraking gekom het.
Sy pa, Christie Abrahams, vertel die familie is oorweldig deur boodskappe van medelye en ondersteuning. “Ons het nooit besef hoe baie vriende hy gehad het en hoeveel mense se lewe hy aangeraak het nie. Die diens Dinsdag (22 April) by die Hoërskool Hermanus
was so emosioneel, byna almal het gehuil en iets moois oor Danté te sê gehad. Ons het nie besef watter diep spore hy in sy kort lewe getrap het nie. Hy het in sy 15 jaar soveel meer bereik as sommige volwassenes,” het Christie bygevoeg.
In die drie en ‘n half jaar wat Danté, ‘n graad9-leerder aan die Hoërskool Hermanus en oudleerder van Mount Pleasant Primêr, by die Overberg-BMX-klub betrokke was, het hy vinnig sy staal getoon en opgang gemaak.
In 2024 het hy sy teenstanders in die stof laat byt om as die Wes-Kaapse BMX-kampioen in die 14-15-ouderdomskategorie aangewys te word. Een van sy topprestasies was egter toe hy sy SA 5-“nommerplaat” by die SA Bekerkampioenskap gewen het. Dit beteken hy het vyfde in sy kategorie op nasionale vlak geëindig. In dieselfde jaar was hy ook nommer een op provinsiale vlak in die 13-14-ouderdomskategorie.
“Voor ‘n race het hy homself altyd afgesny van almal en alles om te fokus en homself voor te berei,” het Christie vertel. “Voor ‘n wedren of rugbywedstryd, of selfs net wanneer hy kosgemaak het, het hy altyd na sy gunstelingliedjie, ‘Don’t stop believing’, van Journey geluister.”
Sy ma, Danielle, sê hoewel haar seun baie nederig was, was hy vol selfvertroue as dit by sy sport gekom het. “Hy het altyd gesê: ‘Niemand kan my klop nie, net ek kan myself klop’,” het sy vertel.
Danté het egter die afgelope paar maande nie aan enige groot kompetisies deelgeneem nie nadat hy tydens oefening geval en harsingskudding opgedoen het. “Die wind het daai dag sterk gewaai en dit het hom om ‘n draai gegooi,” het Christie vertel.
“Hy het Donderdag (die dag voor die ongeluk) vir oulaas met sy vriende op die baan gaan ry. Amper asof hy gaan groet het…”
Oproep verander alles
Die Abrahams-egpaar se lewe is Vrydag 18 April kort ná 18:00 onherroeplik verander toe hulle ‘n oproep gekry het om te sê hul jongste seun is in die hospitaal opgeneem nadat hy in ‘n ongeluk betrokke was. Hy is omstreeks 02:00 die volgende oggend per helikopter na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas waar hy ‘n noodoperasie moes ondergaan.
“Ons het deurgejaag om by hom te wees. Toe ons daar kom, het hulle net gewag vir ons om te teken vir die noodoperasie,” het Christie gesê. Daarna het drie ure van “wag, hoop en bid” gevolg voordat hulle omstreeks 06:00 ingelig is dat die operasie suksesvol was en Danté in die waaksaal opgeneem is.
“Ons het soveel hoop gehad, want sy vitals was goed en as ons met hom gepraat het, was sy hartklop vinniger. Als het so positief gelyk en hy het Sondag selfs op sy eie asemgehaal,” aldus Christie.
Dinge het egter heel anders uitgedraai toe die Abrahams-gesin inderhaas na die hospitaal ontbied is nadat Danté ‘n terugslag beleef het.
Enige ouer se ergste vrees het vir Christie en Danielle waar geword toe hulle ingelig is dat hul sonskynkind met die pragtige glimlag aan sy beserings beswyk het.
“Dit moes seker gebeur het terwyl ons by die hospitaal parkeer het, want toe ons daar kom, het hulle gesê hy het dit nie gemaak nie,” het Christie bewoë vertel. Danté se dood, vertel hy, is vir die hegte gesin baie moeilik.
Danielle vertel sy gaan haar seun se pragtige glimlag die meeste mis, sy suster Phoebe onthou hoe lief hy vir koek was en Christie onthou laggend hoe Danté as ‘n baba hom “Mammie” genoem het.
“Ons was baie close, hy was my visvang-buddy en ek was altyd saam met hom as hy fietsgery het terwyl sy ma meestal saam met hom gegaan het vir atletiek en rugby. Die verlange is groot en dis baie hartseer, maar ek troos my daaraan dat hy sy doel op aarde vervul het.”
Die Overberg-BMX-klub het in ‘n roerende huldeblyk hul medelye met die Abrahams-familie betuig.
“Ons innige simpatie aan Danté se familie en vriende. Hy was ‘n vriendelike jongman wat dit geniet het om saam met die span te ry. Vaarwel Danté, ons gaan jou mis,” het Rickus Müller, ondervoorsitter van die Overberg BMX-klub, gesê.


