As boothengel jou passie is en jy word beloon vir jou uithouvermoë en liefde, dan is dit maklik om sommer twee groot kompetisies te wen.
Die Hermanus-gebaseerde ski-boot WaCa en sy bemanning het nie net die Walkerbaai-bootklub se hengelkompetisie in Hermanus gewen nie, maar hulle was ook die wenners in die Birkenhead-kompetisie in Gansbaai.
Dit is die eerste keer in albei kompetisies se geskiedenis van meer as 30 jaar dat die bemanning die twee kompetisies in een jaar wen. Die eienaars en skippers van die WaCa, Walter Mapham en Carl Dyer, en hul bemanning is baie trots op dié prestasie aangesien die kompetisie baie straf was en Carl boonop die individuele trofee teen ervare Gansbaai-vissers gewen het. Marinus Kleyn het Walkerbaai se individuele trofee gewen.
“Ons hou streng by die amptelike reëls en ondersteun die beginsel van vang en vrylaat, waar visse gemeet, afgeneem en vrygelaat word met vis se gewig wat uit afmetings bereken word,” het Walter, voormalige voorsitter van die Walkerbaai-klub, gesê.
Volgens Carl is hy op sy gelukkigste as hy in Walkerbaai kan hengel met die berge as agtergrond, omring deur seevoëls en skole dolfyne.
Die klub is in die Nuwe Hawe en verwelkom almal met ’n belangstelling in visvang, die omgewing of die hengelgeskiedenis van Hermanus.