’n Inwoner van Sandbaai het ’n groot plakkaat voor sy huis vasgemaak waar hy mense maan om nee te sê vir gastehuise in die rustige buurt wat binnekort opgerig gaan word. Voor Reinhold Swart van Sandbaai se huis is die plakkaat wat lees: “Sê nee vir gastehuise. Ekstra verkeer. Rustigheid versteur. Eiendomswaarde daal. Rig besware aan alida@overstrand.gov.za.”Swart en sy vrou is al vir die afgelope 35 jaar Sandbaaiers en ná jare se harde werk het Reinhold uitgesien om in Sandbaai af te tree totdat hy uitgevind het dat op ’n erf naby aan sy huis beplan die eienaar om nie net een nie, maar twee gastehuise op te rig. “Dis eintlik so ironies. Ek het die Saagsels en Skaafsels-winkels in die noordelike voorstede gehad en verlede jaar het ek afgetree en uitgesien om rustig in Sandbaai te kom bly, en nou tref hierdie turksvy ons,” sê Swart. Die grond is tans geadverteer by die munisipaliteit vir beswaar tot en met 9 Julie. In die vergunningsgebruikvoorwaardes word daar aangedui dat die eienaar van die grond beplan om ’n drieslaapkamergastehuis in die een gedeelte van die onderverdeelde erf te bou. In die ander gedeelte beplan hy om ’n vyfslaapkamergastehuis te bou. Die eienaar het ook aansoek gedoen vir die opheffing van die beperkende titelaktevoorwaardes om ten einde die eiendom te onderverdeel in twee gedeeltes, asook om ’n gastehuis vanaf albei gedeeltes te bedryf. Swart maan ander inwoners van Sandbaai aan om ook hul besware teen die gastehuise in te dien by alida@overstrand.gov.za teen 9 Julie. Die Hermanus Times kon teen druktyd nog nie die eienaar van die grond in die hande kry nie.
Beplande gastehuis laat inwoners rooi sien
’n Inwoner van Sandbaai het ’n groot plakkaat voor sy huis vasgemaak waar hy mense maan om nee te sê vir gastehuise in die rustige buurt wat binnekort opgerig gaan word.
Share this post:
