‘Beskerm jou troeteldiere’

Nuus oor diere wat mishandel of selfs doodgemartel word, word gereeld op sosiale media gedeel.


Nuus oor diere wat mishandel of selfs doodgemartel word, word gereeld op sosiale media gedeel.

In een van die jongste voorvalle in die Overberg is Bailey, ’n jong labrador-hondjie, dood nadat drie minderjariges haar na bewering in Hawston gesteel en in ’n onwettige hondegeveg gebruik het (Pup’s killing shocks locals, Hermanus Times 2 February 2022).

Hierdie en ander soortgelyke voorvalle het diereliefhebbers onthuts gelaat. Maria Pieterse, ’n gemeenskapswerker van Mount Pleasant, het ’n bewusmakingsveldtog rakende dierebeskerming by plaaslike skole van stapel gestuur. Sy het onlangs die eerste praatjie by Hawston Primêr gelewer om kinders bewus te maak dat diere ook gevoelens het en pyn ervaar.

“My boodskap aan die kinders is eenvoudig: Om diere seer te maak, is ’n ‘no no’. Ek leer hulle hoe om hul troeteldiere te versorg, kos en ’n warm slaapplek te gee, met die diere te speel en – die belangrikste – om hulle lief te hê en te beskerm.”

Pieterse het die kinders geleer hoe om hul troeteldier se lyftaal te lees. “Hulle leer as die hond se stert swaai, is hy gelukkig, as sy stert tussen sy bene is, is hy bang en wanneer sy stert in die lug is, is hy kwaad,” verduidelik sy.

Die projek, sê Pieterse, is ’n inisiatief van die Hermanus-gemeenskapspolisiëringsforum met Eddie Holloway, ondervoorsitter van die GPF, sowel as kapt. Fadila September en AO Lillian Davids van die Hermanus-polisie.

September en Davids het ook met die kinders oor die gevare van dwelm- en alkoholmisbruik gepraat.

Die GPF beplan om die veldtog na ander skole in die omgewing uit te brei.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.