Vroueregte-aktiviste en lede van die gemeenskap het hulle nie deur die reën en koue weer laat afskrik nie en was soos gewoonlik by die Caledon-landdroshof vir die Deveney Nel-moordsaak. Foto: Mitzi Buys

Die verhoor van die tienerseun wat van Deveney Nel se grusame moord aangekla is, sal in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor word.

Eric Ntabazalila, die Nasionale Vervolgingsgesag se provinsiale woordvoerder, het dit vroeër aan die Hermanus Times bevestig en gesê die saak is tot 25 Junie uitgestel.

“Die direkteur van Openbare Vervolging, advokaat Nicolette Bell, het beslis dat die saak in die hooggeregshof aangehoor sal word. Die saak is uitgestel tot 25 Junie wanneer die hofdatum aangekondig sal word,” het Ntabazalila bygevoeg.

Die beskuldigde, wat ingevolge die Kinderwet aangekla word aangesien hy minderjarig was toe hy na bewering die moord gepleeg het en in hegtenis geneem is, se volgende hofverskyning sal dus in die hooggeregshof in Kaapstad wees. Die beskuldigde mag ingevolge die Kinderwet nie geïdentifiseer word nie hoewel hy in April 18 geword het.

Hy was 17 jaar oud toe hy die aand van 16 Augustus, ure nadat hy ‘n roudiens bygewoon het wat tot die personeel en leerders van die Hoërskool Overberg sowel as leerders se ouers beperk was, in hegtenis geneem is.

Die roudiens is gehou ‘n week nadat Deveney Nel (16) se liggaam op die gronde van die Hoërskool Overberg gevind is. Sy was as vermis aangemeld toe sy nie vir haar rygeleentheid van die skool na haar huis in Grabouw opgedaag het nie.

Myfannwyn Strauss, ‘n gemeenskapsaktivis en lid van die ANC-vroueliga, wat die saak sedert die beskuldigde se eerste hofverskyning op 19 Augustus 2024 bygewoon het, sê die feit dat die saak na die hooggeregshof oorgeplaas word, gee vir die gemeenskap gemoedsrus dat geregtigheid vir die 16-jarige moordslagoffer sal geskied.

“Die gemeenskap se grootste wens is egter dat die verhoor in Caledon sal geskied sodat almal dit kan bywoon soos met die Joshlin Smith-saak waar die hooggeregshof in Saldanha gesit het. Ons beoog om ‘n petisie op te stel om te versoek dat die verhoor in Caledon aangehoor sal word, maar as dit nie kan gebeur nie, sal ons nie toelaat dat dit ons onderkry nie. Ons sal ‘n plan maak sodat mense dit wel kan bywoon,” het Strauss gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.