Besoekers verwelkom

Met die skoolvakansie wat aangebreek het asook die lang naweek wat voorgelê het, was die N2 buite Caledon Donderdag 14 Desember al van vroegoggend af druk besig – vragmotors, gewone passasiersvoertuie en ook baie bakkies wat woonwaens, bote en boswae


Met die skoolvakansie wat aangebreek het asook die lang naweek wat voorgelê het, was die N2 buite Caledon Donderdag 14 Desember al van vroegoggend af druk besig – vragmotors, gewone passasiersvoertuie en ook baie bakkies wat woonwaens, bote en boswaens gesleep het.

Soos te verwagte, sal gereelde padblokkades gedurende die feestyd aan die orde van die dag wees. Die padblokkade van verlede Donderdag (14 Desember) op die N2 tussen Caledon en die Dassiesfontein-padstal, was ’n padblokkade met ’n verskil, want dit was ook ’n “Welkom in Caledon”-bewusmakingsveldtog.

Lizël Kimber van Beyond Black Mountain (BBM), wat dié veldtog in samewerking met die Theewaterskloof-verkeersafdeling en Caledon FM gereël het, vertel aan Hermanus Times: “Hierdie is die tweede keer wat ons in samewerking met die TWK-verkeersafdeling so ’n veldtog reël. (Sien Hermanus Times van 12 April 2023 “Vakansiegangers só in Overberg verwelkom).

“Caledon FM het ook sy buite-uitsendingeenheid hier gehad en met lekker musiek ’n heerlike atmosfeer geskep.

“Hoewel die verkeersafdeling motors voorgekeer het, was hierdie nie ’n gewone padblokkade nie, want vanuit ’n toerisme-perspektief het ons ook vir gaste ’n pakkie, ’n sogenaamde ‘goodie bag’, gegee om hulle in ons gebied te verwelkom. Die pakkie het allerhande interessante dinge soos koekies, koeldrank, water, inligting asook die jongste uitgawe van Hermanus Times bevat. Alles in die pakkies is deur sakeondernemings in die Overberg geborg,” sê Kimber.

“Ek dink die plek waar ons hierdie keer die bewusmakingsveldtog gehou het, het baie goed gewerk. Baie mense was nogal verbaas, want dit was gewis die mees feestelike padblokkade waarin hulle nog was en hulle het dit geniet om ’n vriendelike gesig met ’n geskenkpakkie aan die ander punt van die padblokkade te sien,” sê Kimber.

Alicia Cloete van Caledon FM sê: “Ons was hier met ons buite-uitsending vandag en ons wou graag die BBM en die verkeersafdeling in hierdie veldtog met ons radiouitsending ondersteun sodat mense kon hoor waar ons was, wat ons gedoen het en hoe dit gegaan het.

“Dit was regtig baie feestelik en ’n groot sukses.”

’n ANPR-voertuig (automatic number plate recognition) was ook teenwoordig, wat alle voertuie se nommerplate skandeer en vir uitstaande boetes nagegaan het. Uitstaande boetes moes daar en dan betaal word.

Ter afsluiting sê Kimber: “Die veldtog was gewis ’n groot sukses en die verkeersbeamptes asook die polisie wat teenwoordig was, het fenomenale werk gedoen.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.