In vandag se tye waar die Suid-Afrikaanse polisie soveel negatiewe publisiteit kry, is dit gerusstellend om te weet dat een van die polisiekantore in die Overberg by die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die Wes-Kaap se prysuitdeling vir uitnemendheid uitgeblink het.
Die Villiersdorp-polisiekantoor is as die beste plattelandse stasie in die Wes-Kaap aangewys.
Dié gesogte prysuitdeling, waar sersant Thebogo Ntone van Villiersdorp as die beste speurder vir 2023 aangewys is, is op 11 November in Kaapstad aangebied. Ander beamptes van die Villiersdorp-polisie wat eerbewyse ontvang het, is AO Sylvester de Long as die beste skofbevelvoerder, konst. A. Beukes as die beste uniformlid en Sherwin Brewell, Adrie Koch en M. Mbuwako as die beste administratiewe lede.
Sers. R. Baster is as die beste misdaadvoorkomingsbeampte aangewys en die A-skof van die Villiersdorp-polisie is as die beste skof gekroon.
Genl. Miriam Mochologi het die kantoor Donderdag 23 November besoek om die eer met die beamptes te deel.
Volgens kapt. Ryan Arendse, die operasionele bestuurder van die Villiersdorp-polisiekantoor, is hy baie opgewonde oor die eer wat hulle te beurt geval het.
“Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat die Villiersdorp-polisie so ’n eerbewys ontvang. Ek is baie trots op ons lede en is dankbaar dat ons in die moeilike en uitdagende tye raakgesien word,” het hy gesê.
Volgens hom is hy nou al twee jaar by die Villiersdorp-polisiekantoor en glo hy hulle sal net van krag tot krag bly gaan. “Ons is deur ’n baie moeilike tyd met al die onluste wat vanjaar in Villiersdorp gewoed het, maar ons beamptes het hul werk met trots aangepak.”