’n Klein groep mense van Overhills, wat ontsteld is oor dienslewering, het die gemeenskap aan Palmiet se kant in Kleinmond se huise met klippe bestook, bande gebrand en veroorsaak dat die R44-hoofpad gisteraand vroeg gesluit moes word. “Is daar enigiemand wat ons kan help, want die polisie kan ons nie help nie. Hulle bestook ons huis in Alheitstraat met klippe en bakstene en amper al ons vensters is uitgegooi. Is daar enige iemand wat kan help,” het iemand van Palmiet oor ’n gemeenskap-WhatsApp-groep vanoggend gesmeek.Volgens Grant Cohen, ’n raadslid in Kleinmond, is hy hartseer oor die betoging wat deur ? klein groepie Overhills-inwoners geneem is. “Ons kan nie dié soort geweld in ons dorp toelaat nie waar ’n klein groepie inwoners die res van die dorp as kluisenaars gevange hou,” sê Cohen. Hy noem daar is al verskeie vergaderings met die leierskap van die omgewing gehou – die laaste vergadering van Vrydag was onder die voorsitterskap van David Williams van die Menseregtekommissie. “Die kwessie van elektrisiteit is breedvoerig bespreek en daar is verduidelikings gegee oor hoe die proses werk, begin met geld wat nie van die munisipaliteit afkomstig is nie, maar deur die INEP-program wat deur die nasionale regering gefinansier word. Ongelukkig is die bedrag wat die munisipaliteit vir die nuwe finansiële jaar vir hierdie program ontvang, ’n druppel in die emmer vir die elektrisiteit wat nodig is. Normaalweg volg die finansiering van behuisingsprojekte ook die insluiting van elektrisiteit. Dit is teleurstellend as so iets gebeur, want die meerderheid van die dorp wil saamwerk en oplossings vind en só ’n voorval sit ons weer agteruit,” verduidelik Cohen. Die R44-hoofpad tussen Overhills en die hawe is tans gesluit, maar motoriste kan ’n veilige ompad deur Palmietstraat vat wat hulle sal uitbring by die hawe se straat. Die polisie en verkeersbeamptes hou tans ’n oog oor die situasie wat aansienlik rustiger geraak het sedert gisteraand en vroeg vanoggend. Jacques Oosthuizen, voorsitter van die Hangklip- en Kleinmond-gemeenskapspolisiëringsforum, maan alle inwoners in die Palmiet-omgewing om hulle vensters toe te hou omdat pepergranate afgevuur word. “As jou eiendom deur die betogers beskadig word, moet die eienaars van die huis my so gou as moontlik laat weet. Die GPF keur nie die geweldige aksies goed nie,” sê Oosthuizen.Jacques Oosthuizen kan gebel word op 067 364 7023.
Betogers hou Kleinmonders kluisenaar
’n Klein groep mense van Overhills, wat ontsteld is oor dienslewering, het die gemeenskap aan Palmiet se kant in Kleinmond se huise met klippe bestook, bande gebrand en veroorsaak dat die R44-hoofpad gisteraand vroeg gesluit moes word.
Share this post:
