Beukes-familie kom van heinde en ver vir reünie

Wanneer die Beukes-familie ’n reünie hou, doen hulle dit behoorlik.


Wanneer die Beukes-familie ’n reünie hou, doen hulle dit behoorlik.

Altesaam 118 familielede het Saterdag 16 Julie van oor die Wes-Kaap, Secunda, Springbok, Windhoek en selfs Abu Dhabi op die Klipheuwel-plaas buite Caledon saamgetrek om dié reünie te vier.

Die Klipheuwel-plaas, wat vroeër as Klip-Heuvel bekendgestaan het, is al sedert die 1700’s in die Beukes-familie. Barend Hendrik Adriaan Beukes, enigste seun van Jacobus Petrus Beukes, is in 1902 op die plaas gebore. Hy en sy vrou Anna Susanna Magdalena, ’n nooi Swart, het 10 kinders gehad, waaruit 42 kleinkinders gebore is. Vandag is daar 74 agterkleinkinders en 52 agter-agterkleinkinders.

Die grond is steeds in die Beukes-familie en daar word daarop, sowel as die naburige plase Kralegin, Mierlaagte en Avontuur, geboer.

Soos verwag het die vreugdevure hoog gebrand en ’n skaap of twee is gespit. Annatjie Bekker van Kraaifontein vertel aan Hermanus Times: “Ek het op Klipheuwel grootgeword. My pa was een van die 10 kinders, en ek is een van die 42 kleinkinders. Dit was ’n absolute voorreg en genade dat ons as familie so heerlik kon saamkuier. Baie stories is vertel, foto’s geneem en niggies en neefs wat mekaar lanklaas gesien het, kon mekaar van voor af weer leer ken.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.