Natasha Joubert, die huidige Mej. Suid-Afrika, se “Natasha Joubert Collective”-program het deure vir ’n plaaslike inwoner van Franskraal geopen toe sy ’n beurs van HyperionDev en Asus ontvang het. HyperionDev is Suid-Afrika se grootste tegnologiese opvoedkundige instelling en Asus is ’n rekenaarhardewaremaatskappy.
Johane Neethling kan danksy die beurs ’n webwerf-ontwikkelingsprogram vir ses maande volg. Sy het in Junie met haar opleiding begin.
Die 20-jarige Johane kon nie uitgepraat raak oor die geleentheid nie. In dié stadium bestuur sy ’n aanlyn onderneming wat sy twee jaar gelede begin het. “Om die onderneming te begin, het my die geleentheid gegee om eerstehandse kennis in verskillende gebiede op te doen, soos die ontleding van bemarkingstendense en om dan jou bemarking so aan te pas,” het sy gesê.
“Die onderneming het my nie net gehelp om die digitale wêreld en bemarking beter te verstaan nie, maar ek het ook ’n passie vir die veld ontwikkel.”
Vir Johane het die ondersteuning van haar ma, Lindi, en susters Liandri en Mieke bygedra tot die sukses van die onderneming. “Ons almal werk saam aan die onderneming en elkeen se vaardigheid dra by tot die sukses. Ons is nie net almal passievol oor die onderneming nie, maar baie trots op dit wat ons doen.”
Haar pa werk op die oomblik oorsee.
Sy was ’n leerder aan die Hoërskool Bonnievale, waar die skoolhoof, Johan Els, ’n groot rol in haar lewe gespeel het. “Mnr. Els was alombekend vir sy toewyding om sy leerders op akademiese veld te laat uitstyg. Ek was bevoorreg om die laaste matriekgroep te wees voordat hy afgetree het,” vertel sy.
Johane het baie rolmodelle, maar dis haar oupa wat vir haar uitstaan as iemand wat wys dat omstandighede jou nie kan onderkry nie. “My oupa het nie matriek nie, maar het my gewys ’n mens kan met passie en uithouvermoë iets in jou lewe vermag. Hy het ’n suksesvolle staalonderneming op die been gebring, wat al vir 40 jaar suksesvol bedryf word. Sy lewe getuig daarvan dat uithouvermoë, harde werk en passie tot sukses kan lei, en hy het my ook aangemoedig om my drome na te volg.
“Om die beurs te ontvang, is ’n seën en ek is baie dankbaar om danksy die beurs verder te studeer. Ek was nog altyd gefassineer deur tegnologie en hoe dit jou besigheid kan bevoordeel. Ek wil graag bydra tot die dinamiese veld van die ontwikkeling van webwerwe en wil graag nuwe gebruikersvriendelike webwerwe ontwikkel.”
Die beurs gaan haar lewe verander en sy is baie dankbaar oor die geleentheid wat sy nie net as vanselfsprekend gaan aanvaar nie. “Die toekenning van die beurs het my finansieel baie gehelp en het die passie vir webwerfontwikkeling nou ’n werklikheid gemaak. Ek is baie dankbaar vir Natasha Joubert, Asus en HyperionDev vir die geleentheid.”
Sy sien haarself oor 10 jaar as iemand wat ’n sukses in die tegnologie-wêreld maak danksy die kennis en ondervinding wat sy deur die kursus en deur haar werk opgedoen het. “Verder hoop ek om ’n gebalanseerde lewe te hê met ’n ondersteunende eggenoot en kinders wat my drome aanvul. Ek wil ook deur my lewe wys dat vroue hul potensiaal kan uitleef, ’n suksesvolle beroepslewe kan hê asook ’n goeie vrou en ma kan wees,” sluit sy af.